Die idee om vir ’n wêreldwye gehoor te ontwerp, is ook vandag gewild. Universele Ontwerp (UD) as raamwerk vir eietydse ontwerp help ontwerpers om hulle kommunikasie, produkte, dienste en omgewings vir so veel mense as moontlik toepaslik en toeganklik te maak. Universele ontwerp, ook genoem inklusiewe ontwerp of onbeperkte ontwerp, kan op voorwerpe, stelsels, omgewings en kommunikasie toegepas word. ’n Groep ontwerpers en navorsers het die sewe belangrikste Beginsels van Universele Ontwerp ontwikkel.
1. ONPARTYDIGE GEBRUIK 2. BUIGSAAMHEID TEN OPSIGTE VAN GEBRUIK 3. EEnVOUDIgE En InTUïTIEWE gEBrUIK 4. WAARNEEMBARE OF DUIDELIKHEID VAN INLIGTING 5. SPELING VIR FOUTE 6. MIN FISIESE INSPANNING 7. GROOTTE EN RUIMTE VIR BENADERING EN GEBRUIK
Wat beteken hierdie beginsels egter, en hoe word hulle op ontwerp toegepas? Die rol van die beginsels is om ontwerpoplossings wat so veel as moontlik verskillende soorte mense in ag neem, te ontwikkel. Het jy geweet dat talle linkshandige mense sukkel om met ’n normale skêr te knip? Kan jy jou indink hoe iemand in ’n rolstoel moet voel wanneer daar slegs trappe in ’n gebou is en geen oprit of hysbak nie? Hoe gebruik mense met swakker sig ’n afstandbeheerder met klein simbole en nommers, of hoe stoot verswakte mense swaar deure oop? Daar was in die verlede ’n neiging in ontwerp om vir die “normale persoon” te ontwerp en dit het tot uitsluitingspraktyke op die meeste gebiede van ontwerp gelei. In die afgelope paar jaar is die praktyk van ontwerp hersien en ons kyk nou na talle meer gebruikers (mense wat die ontwerp gebruik) wanneer produkte, geboue, toestelle, ens. ontwerp word.
• Die beginsels wat aan Universele Ontwerp verbind word, gee aan ontwerpers ’n praktiese lys dinge wat hulle moet oorweeg terwyl hulle ’n ontwerp produseer. Wanneer jy byvoorbeeld kyk na die eerste beginsel, onpartydige gebruik, beteken dit eenvoudig dat jy moet probeer om dieselfde metode van gebruik vir almal te skep en as dit nie moontlik is nie, dat jy ’n soortgelyke ontwerp skep vir dié wat nie die ander een kan gebruik nie. Goeie voorbeelde hiervan is outomatiese deure by inkopiesentrums, aangesien die deure vir almal sal oopmaak, of jy nou stap of in ’n rolstoel is.
• Die tweede beginsel, Buigsaamheid ten opsigte van gebruik, is dikwels produkte soos skêre wat spesiaal ontwerp is dat regshandige sowel as linkshandige mense dit met dieselfde gemak kan gebruik.
• Die wêreld waarin ons woon, is dikwels heeltemal te kompleks, dus vereis die derde beginsel, Eenvoudige en Intuïtiewe gebruik, dat ontwerpers onnodige ingewikkeldheid uit ontwerpe verwyder sodat die ontwerp maklik is om te verstaan, ongeag die persoon se taal, ouderdom, geletterdheid, ens.
• Nog ’n beginsel wat op die kompleksiteit in ons wêreld betrekking het, is Waarneembare en Duidelikheid van Inligting, wat eenvoudig beteken dat die ontwerper die belangrikste inligting moet laat uitstaan sodat gebruikers onmiddellik kan weet wat hulle met die produk of sisteem moet doen of wat die ontwerp op sy eie moet voorstel of doen.
• Beginsel vyf, ’n Speling vir Foute, vereis dat ’n ontwerp so veilig as moontlik moet wees. Ontwerpers moet al die veiligheidsaspekte van ’n ontwerp in ag neem en seker maak dat enige moontlike probleemgebiede aandag ontvang en dat toepaslike veiligheidsinligting aan die gebruiker beskikbaar is.
*
Universeel: Almal in die wêreld word ingesluit, of dit hou verband met almal, of die hele klas of groep wat betrokke is, word ingesluit.