Hierdie plakkaat wat deur Shepard Fairey vir sy projek Obey ontwerp is, gebruik soortgelyke ontwerpelemente as dié van die Chinese revolusionêre plakkaat. Sy kleurpalet vir Obey is rooi, wit en swart en die projek fokus daarop om maatskaplike en politieke kwessies uit te lig deur dit op plakkers, straatmure en deur die gewilde media te vertoon.
Kubaanse revolusie
Die hoofdoel van die Kubaanse Revolusie, wat gelei is deur Fidel Castro, was om Fulgencio Batista, wat ’n Amerikaans-gesteunde diktator was, van sy mag te onthef. Die gebruik van plakkate gedurende die Kubaanse Revolusie was nie so gewild as gedurende die Russiese Revolusie nie. Talle van die revolusionêre aktiwiteite wat in Kuba plaasgevind het, het plaasgevind as guerrilla-aanvalle wat uitgevoer is deur groepies soldate wat wou aanval en vinnig terugtrek. Daar is egter ’n ryk kultuur van revolusionêre Kubaanse plakkate wat na die revolusie toe Fidel Castro aan bewind gekom het, geproduseer is. Gedurende hierdie tyd is talle plakkate geproduseer om die revolusionêre oorwinning te vier. Daar was ook propagandistiese plakkate wat die Kubane gewaarsku het om teen nog ’n Amerikaanse inval te waak. Die Russe het in 1963 ’n plakkaat van Fidel Castro gedruk om die band tussen Rusland en Kuba te vier (sien hieronder). Let weer op die gebruik van minimale kleur, rooi en swart, met ’n sterk illustratiewe kwaliteit. Die hooffiguur word in die voorgrond uitgebeeld, terwyl groot getalle ondersteuners wat hande klap en glimlag op die agtergrond is. Alhoewel daar nie vreeslik baie plakkate tydens die Kubaanse opstand gedruk is nie, het hierdie tydperk een van die mees ikoniese foto’s in die geskiedenis opgelewer, naamlik ’n beeld van ’n Argentynse dokter en opstandeling, Ernesto ‘Che’ Guevara, wat in 1960 deur Alberto Korda geneem is (sien bladsy 60).
Hierdie plakkaat is in 1963 deur die
Russe geskep om die werk van Fidel Castro en die politieke band tussen Kuba en Rusland te vier.