Ter inleiding van Projek 14 Soos jy reeds weet, is die Bauhaus-skool in 1919 in Weimar, Duitsland deur Walter Gropius gestig. Ten spyte van die naam en die feit dat Gropius ’n argitek was, is dit ironies dat die Bauhaus vir die eerste paar jaar van sy bestaan geen argitektuurdepartement gehad het nie. Die belangrikste rede vir die stigting was die idee om ’n platform vir alle kunste te skep, insluitend argitektuur, om as ’n eenheid te bestaan – geen vakgebied moes belangriker as die ander een wees nie.
Dit is gevorm deur die bewegings van die 19de
en vroeë 20ste eeu, soos die Kuns- en Handwerkbeweging wat ook probeer het om die verskille tussen die skone en toegepaste kunste te verklein en om die kreatiewe en vervaardigingsaspekte van produkte en geboue te verenig. Die studente het kunstenaars, argitekte, wewers, beeldhouers en ontwerpers ingesluit wat, soos die kunstenaars en vakmanne van die Renaissance-tydperk, saam in die werkswinkels gestudeer en gewerk het. Hulle aanvanklike voorstelling as ’n Middeleeuse handwerkgilde het hierdie Renaissance-idee versterk. Hulle het teen die 1920s begin om meer te fokus op die vereniging van kuns en industriële ontwerp. Die Bauhaus was ongelukkig oor die sielloosheid van massaproduksie en -vervaardiging. Daar was ’n groot vrees dat kuns en die kreatiewe proses sy rol en doel in die samelewing sou verloor. Hulle het as ’n beweging ook intellektuele en teoretiese aktiwiteite beklemtoon. Die skone kunste en handwerk met ’n sterk teoretiese grondslag is dus byeengebring met die doel om probleme vir ’n moderne industriële omgewing en samelewing op te los. Soos by die Kuns- en Handwerkbeweging moes hulle skeppings ook prakties en bekostigbaar wees vir gebruik deur die algemene publiek. ’n Kenmerk van die Bauhaus was ’n eenvoudige, geometriese en verfynde styl wat uiteindelik ’n belangrike invloed op modernistiese ontwerp en argitektuur gehad het. Dit het ook ’n beduidende impak op latere ontwikkelings in kuns, argitektuur, grafiese ontwerp, binnenshuise ontwerp, industriële ontwerp en ja, ook tipografie gehad.
Watter nalatenskap het ons dus van Bauhaus? Dit het stilisties die versierings gestroop en slegs die oorblywende skoon lyne van funksie gebruik. Funksionaliteit was vir hulle baie belangrik en hulle het ook besluit om glad nie na die verlede te verwys nie. Bauhaus het gereken dat industriële ontwerp ’n noodsaaklike bedryf is wat die toon moes aangee vir die ontwikkeling van produkontwerp en verbruiksersbewustheid soos ons dit vandag ken. Alhoewel daar soortgelyke bewegings soos Bauhaus was (byvoorbeeld De Stijl), het Bauhaus die belangrikste simbool van moderne ontwerp geword. Dit het baie van Gropius se doelwitte bereik, en selfs nadat die skool gesluit is, kan ’n nalatenskap gesien word, aangesien Gropius se model steeds in talle visuele kommunikasieprogramme en kuns- en ontwerpskole se kursusse gebruik word.