Kyk noukeurig na die eienskappe van jou gekose lettertipe en teken jou woord in hierdie lettertipe. Staan terug en kyk vanaf ’n afstand na jou finale tekening. Dink jy steeds dat hierdie lettertipe die energie van die woord wat jy gekies het, uitbeeld en versterk? Indien ja, kom ons gaan aan na Stap 3. Indien nee, gebruik die geleentheid om weer na van die ander lettertipes te kyk en te kyk of jy iets kry wat beter pas.
STAP3
TEgnIESE TEKEnIng VAn 3D-VOrMS Jy moet op hierdie stadium weet dat jou finale produk ’n 3D-voorstelling gaan wees van die woord wat jy gekies het, en in die styl van die lettertipe wat jy uitgesoek het. Dit is raadsaam dat jy teruggaan na jou werkboek en ’n paar 3D-tekeninge van die letters maak sodat jy noukeurig die konstruksie van elkeen kan beplan.
MATERIALE, KLEURE EN TEKSTURE ’n Noukeurige keuse van boumateriale, teksture, kleure en groottes kan alles ’n noodsaaklike rol in jou sukses of mislukking speel. Gebruik dus jou tyd en moenie koers verloor van hoe die woord en die lettertipe wat jy wil weerspieël, lyk en voel nie. Dit behoort jou op sigself baie te help met besluite oor die gebruik van kleur, materiale, ens. Dink ook daaraan dat afhangend van die detail in jou lettertipe en die letters van jou woord, jy ’n materiaal moet oorweeg wat jou nie aan bande sal lê as jy die materiaal moet manipuleer om die gewenste resultaat te kry nie.
KONSTRUKSIE Nog ’n belangrike komponent sal wees om verskillende konstruksiemetodes te ondersoek en uiteindelik die toepaslikste een te kies wat werklik die voorkoms en gevoel van die finale produk sal versterk.
Wanneer jy jou woord aanmekaargesit het en alles is agter die rug, stel vas hoe jy jou meesterstuk gaan uitstal.
!
Hier volg ’n paar wenke en inspirerende idees om te oorweeg wanneer jy konstruksiemetodes vir jou projek ondersoek.
EERS DIE BASIESE DINGE Gebruik ’n skêr of teëlmessie, 1 m-liniaal, snyplank en sterk gom om die 3D-letters te maak. Daar word sterk aanbeveel dat jy die gom op verskillende stukkies papier uittoets. Verskillende gomsoorte kan ’n ongewenste, onnet effek op papier hê of dit laat opblaas.
Een van die dinge wat jy kan probeer doen, is om eers ’n hol A4- of A3-prototipe van jou eerste letter te maak. Gebruik dik papier of monteerbord. As jy nie die hulpbronne het nie, gebruik kartonbokse, byvoorbeeld dié van kosverpakkings.
Werk altyd netjies en hou altyd by veiligheidsriglyne!