Gedurende die tweede helfte van die 1960s het die lewenstyl van protes baie gewild geword. Alhoewel die jeug ’n nuwe siening oor die samelewing en politiek gehad het, het die wêreld nie so vinnig verander nie. Die hippie-beweging het uit die alternatiewe jeugkultuur ontstaan en “liefde nie oorlog nie”-ideale, verskeie dwelmmiddels en losbandige gedrag is nagejaag. Hierdie individue, wat die “blommekinders” genoem is, het die strate ingevaar om hulle stemme te laat hoor en geen deel van die kultuur was van hulle revolusionêre sienings gevrywaar nie. Die 1969 Woodstock-musiekfees het die lewenstyl, opstand en toekomsvisie van die jeug verteenwoordig. Psigedeliese kuns het deel gevorm van die visuele uitdrukking van die latere 1960s. Helder en kontrasterende kleure, inmekaarvloeiende ontwerpe, Art Nouveau-styl tipografie en organiese komposisies het die psigedeliese ontwerp gekenmerk wat ’n gewilde keuse geword het vir plakkate, strooibiljette en plaatomslag. Psigedeliese ontwerp is steeds vandag teenwoordig, hoofsaaklik binne die trance-subkultuur.
Die plakkaat vir die Woodstock-fees Psigedeliese plakkaatkuns deur Wes Wilson in 1967
POPULÊRE EN IKONIESE MUSIEK VAN DIE 60S
Die laat-1960s het van die invloedrykste musikante van die eeu geproduseer, insluitend The Beatles, The Rolling Stones, Janis Joplin, Jimi Hendrix en The Doors, om slegs ’n paar te noem. Teen die einde van die dekade het talle jongmense ontnugter geraak, aangesien hulle protes en opstand nie die verandering teweeggebring het wat hulle wou bereik nie. Die dekade het egter ’n unieke populêre kultuur verteenwoordig wat direk verbind kan word met die jeugkultuur. Dit het nuwe idees, konseptuele style, nuwe materiale soos plastiek en die konsep van weggooibare ontwerp aangehang. Hierdie idees is in die 1970s ingedra en sou die basis vorm van nog ’n nuwe opstand – hierdie keer teen armoede en die verval van die omgewing.