Hierdie plakkaat toon die tipiese font wat die gunsteling van die De Stijl-beweging was. Dit lyk amper soos die LED-letterbeelde wat ons vandag aantref. Slegs die primêre kleure – rooi, blou en geel – is gebruik, asook swart op ’n wit agtergrond.
Slegs vierkante en reghoeke is gebruik, in ooreenstemming met die De Stijl-beginsels om nie herkenbare beelde te gebruik nie. Die blokke wissel in grootte en kleur en word op so ’n wyse geplaas dat die algehele komposisie die beste moontlike harmonie van vorm en kleur kan verkry. Wit lyne kom voor waar die blokke naby aan mekaar gespasieer is. Dieselfde grootte horisontale en vertikale lyne van die font word op twee plekke herhaal en dit skep ’n groter balans in die komposisie van hierdie plakkaat as wat dit sonder die herhaling sou wees.
Huszár het ’n asimmetriese komposisie van gekleurde blokke gebruik. Die swart reghoeke steun die komposisie, maar vorm ook ’n sterk kontras met die wit agtergrond. Die tekstuur is glad, wat ’n baie onpersoon- like aanwending en benadering gee.
Plakkaat deur Vilmos Huszár
AKTIWITEIT 1
Kan jy nog onthou wat die betekenis van “asimmetries” is? Indien nie, kyk weer na jou Graad 10-boek.
Ter afsluiting, teken vinnig ’n breinkaart in jou werkboek wat die De Stijl-beweging opsom. Sluit die volgende daarby in:
Naam De Stijl + ten minste 2 ontwerpers en ’n ontwerp van elkeen + invloede op De Stijl + eienskappe van hierdie beweging