• Dit moet altyd die positiewe dinge van die maatskappy, produk of diens vertoon. Die mag voor die hand liggend klink, maar as jy ’n stad wil verfraai deur al die vullis van die strate te verwyder, wil jy dalk nie die vullis wat jy wil verwyder as deel van jou logo hê nie. Gebruik eerder die belofte van ’n silwerskoon stad as ’n meer positiewe benadering.
• Dit moet uniek en herkenbaar wees. Sommige logo’s in spesifieke bedrywe begin dikwels eenders lyk, byvoorbeeld die webwerwe waar jy musiek aflaai of die rekenaarbedryf maak dikwels hierdie fout. Laat jou logo uitstaan deurdat dit anders lyk, maar nie só anders dat daar geen verband is tussen die logo en die bedryf wat dit voorstel nie. Maak dus seker dat dit verband hou met die betrokke bedryf. Jy wil nie hê dat jou klante jou rekenaarwinkel se identiteit moet verwar met dié van die roomyswinkel op die volgende hoek nie.
• Dit moet onthou kan word. As mense die logo of die naam van die maatskappy vergeet, het jy jou geld gemors, nie waar nie?
• Dit moet veelsydig wees en op verskillende maniere gebruik kan word. Talle maatskappye het 30 of meer verskillende items wat deel vorm van hulle korporatiewe identiteite, vanaf skryfbehoeftes tot sleutelringe, klere, matte, naamborde, ens.
• Dit moet in kleur asook in swart en wit kan werk. Die rede hiervoor is dat ’n mens as gevolg van die koste soms sekere items soos ’n faktuurboek in net een kleur bv. swart. Die logo moet ook as ’n faks kan werk. Talle logo’s wat nie goed faks nie, kom as ’n onherkenbare blerts swart ink aan die ander kant uit en ’n gratis bemarkingsgeleentheid is daarmee heen. Dit kan ook onprofessioneel lyk en potensiële saketransaksies die nekslag toedien.
• Dit moet volgens skaal verklein of vergroot kan word. Jou logo moet goed lyk as ’n wapentjie wat werknemers dra, of op die kant van ’n bus! Dit moet in alle groottes kan werk en die tipografie wat jy gebruik, moet in alle groottes leesbaar wees.
• Die beste logo’s in die wêreld is tydloos. Modes verander elke seisoen, maar jou logo moet die mode kan weerstaan en vir baie jare diens doen. Kyk na die voorbeeld regs: Dit sê alles!
StaP1 Identifiseer jou saak.
Besluit op ’n naam wat jou doel, idees of ideale vir hierdie projek oordra. (Vriendelike wenk: Hou dit kort, mense onthou nie lang name nie). Maak seker dat jy goed verstaan wat jy met jou projek wil bereik. Ons noem dit jou doel en doelwitte en dit kan as ’n missie en visie geskryf word vir die veldtog wat jy wil aanpak. As jy spesifiek is, help dit jou omskryf hoe jou logo vir jou projek moet lyk, en later waarvoor dit gebruik kan word of waar dit aangewend kan word.