5 Gebruik gom wat nie te loperig is en ’n opblaaseffek agter jou prente sal veroorsaak nie. Pritt of ’n soortgelyke handelsmerkgom werk steeds die beste vir fotomontage-tegnieke.
Voordat jy die prente op die rugkant vasplak, rangskik hulle eers en kyk of die uitleg of komposisie werk. Nog ’n goeie wenk is om stukkies Prestik agter die prente vas te sit. Op hierdie manier kan jy die prente rondskuif voordat jy dit finaal aan die rugkant/steunstuk vasplak.
Wanneer jy en jou onderwyser met jou fotomontage tevrede is, kan jy met die finale tekening van die plakkaat begin.
AFDELING2 Swart-en-wit-tekening
Dit is belangrik vir jou tekening dat jy eers ’n presiese duplikaat of kopie van die fotomontage maak. Om dit te kan doen, is dit raadsaam om die kunstenaar Albrecht Dürer se skermrooster te gebruik. Maak ’n kopie van die fotomontage en skep ’n roosterpatroon bo-op die werk. Jy sal die gewenste effek kry as jy die beeld blokkie vir blokkie kopieer!
Die prent hierbo verduidelik hoe die kunstenaar Albrecht Dürer sy roosterstelsel gebruik het deur die skermrooster tussen hom en die voorwerpe wat hy wou teken, te plaas. Ons hoef nie vandag ’n skermrooster te gebruik nie. Ons kan bloot die roosterstelsel op ons tekening of beeld byvoeg, soos jy hieronder kan sien.
Albrecht Dürer het ’n stelsel ontwerp om ’n beeld akkuraat te kopieer. Dit word Dürer se instrument genoem.