Belangrike meningsvormers van daardie tyd, soos Adolf Loos het die frase “ornament en misdaad” gewild gemaak, en Le Corbusier die stelling “gemors word altyd ryklik versier”.
Wat hulle gesê het, was dat as jy iets erg moes versier om dit aanvaarbaar te laat lyk, dit waarskynlik van die begin af gemors was en nie as ’n goeie lewensvatbare produk van goeie gehalte gereken kon word nie. Wanneer oppervlak-versiering volgens hulle spesifikasies gebruik is, was dit altyd beheers en nooit bedoel om met die funksie van die stuk in te meng nie, of dit nou ’n gebou, juweliersware, ’n skildery of meubelstuk was. Die funksie of doel van die stuk was belangriker as enigiets anders. Hulle het geredeneer dat ’n ontwerper iets nooit moet versier net om dit “mooi” te laat lyk nie, selfs die versiering moes een of ander rede en doel hê. Oppervlakke was as gevolg van hierdie oortuiging gewoonlik redelik eenvoudig. Ten spyte van ontwerp volgens hierdie “beperkende” beginsels, het hulle uitdrukking gevind met nuwe materiale, nuwe produksietegnieke en nuwe ontwikkelings in wetenskap vir ’n eietydse leefstylmark wat deur elektrisiteit aangedryf was. (Die sans-serif Johnston lettertipe is oorspronklik dwarsdeur die ondergrondse sisteem gebruik.)
Modernisme het uiteindelik rondom die begin van die 1930s die populêre kultuur betree. (Leer meer oor Populêre Kultuur in Module 4). Dit is gesien as die antwoord vir probleme wat uit verstedeliking gespruit het (’n proses wat met die Industriële Revolusie begin het) en die nuwe maniere van kommunikasie met massas verbruikers. Dit kon baie probleme oplos as gevolg van hulle liefde vir eietydse materiale, die kennis van hoe om met welslae met die massamark te kommunikeer, asook die vasberadenheid om goed-ontwerpte items en ontwerpe te produseer. Die Londense moltrein-logo is ’n goeie voorbeeld van die behoefte aan duidelike, onmiddellik-herkenbare visuele simbole. Dit is reeds in 1919 deur Edward Johnston ontwerp – amper ’n 100 jaar gelede – en is steeds relevant, funksioneel en herkenbaar. Is dit nie wonderlik nie?
Met ’n paar klein aanpassings deur die jare word hierdie medaljon oral herken en het amper ’n simbool en ikoon van Londen self geword!
Van die grootste en ooglopendste veranderings wat gedurende hierdie tyd plaasgevind het, was die integrasie van moderne tegnologie in die daaglikse lewe. Die motor, telefoon, elektrisiteit en alles wat daarmee saamgaan, het die samelewing in die wêreld vir ewig verander. Spoed en die behoefte om vinniger te beweeg en alles vinniger te doen, het ’n lewenswyse geword. Die tydperk net na die Eerste Wêreldoorlog het tot ’n einde gekom en die neiging om eenvoudige, geometriese ontwerpe met min of geen versiering en geen geskiedkundige verwysing nie, te benut, het gelei tot die totstandkoming van die Internasionale Styl.
Namate ons voortgaan, sal jy sien dat talle bewegings en style duidelik onderstreep het wat die Modernisme of Moderne beweging beklemtoon het, en ’n magdom van kulturele en estetiese bewegings het daaruit voortgevloei.