Vanaf ongeveer 3 700 jaar gelede het Semitiessprekende gemeenskappe in die westelike Mediterreense gebiede van Europa onder Egiptiese heerskappy gekom. Alhoewel hulle vroeë skrifstelsels deur Egiptiese piktogramme beïnvloed is, het die Semiete hulle eie alfabet ontwikkel. Aangesien die begrip vir ’n piktografiese alfabet in die taal self gegrond is, moes die Semiete nuwe betekenisse en simbole ontwikkel wat in hulle eie taal sinvol was. Noord-Semitiese skrif is ’n term wat gebruik word om die ontwikkeling van ’n nuwe alfabet in hierdie streek te beskryf. Hulle het hulle nuwe alfabet op Egiptiese hiërogliewe gegrond en feitlik 90% van die Semitiese lettervorms kan na ’n hiëroglief- oorsprong teruggevoer word. Anders as die Egiptiese skrifstelsel wat honderde karakters het, het die nuwe alfabet egter slegs twee-en-twintig letters gehad. Aangesien die oudste voorbeeld van hierdie alfabet in Fenisië, ’n streek aan die westelike kant van die Middellandse See, gevind is, praat ons van die Fenisiese alfabet. Die karakters in die Fenisiese alfabet was almal konsonante en klinkers is slegs by woorde gevoeg om met die grammatika te help. Die lettervorms is met snylyne vereenvoudig en visueel herinner die lettervorms ’n mens amper aan die wigskrif-alfabet van Mesopotamië. Slegs ’n paar organiese vorms en lyne is vir die skep van letters gebruik.
Wapen
Haak
Venster
Deur
Kameel
Huis
Os
Vis
Water
Osstok/ Porstok
Handpalm Hand Onbekende Heining
Merk
Fenisiese skrif: Daar is ooreenkomste tussen vroeë Fenisiese skrif, Egiptiese hiërogliewe en Mesopotamiese wigskrif, maar die Fenisiese skrifstelsel en alfabet het die basis geword van alle Europese skryfstyle omdat dit makliker en vinniger was om te gebruik.
Tand
Kop
Aap
Vishoek Mond Oog
Steun
Die Fenisiese alfabet wat vernoem is na die streek waar die oudste voorbeelde van die alfabet gevind is, is op Egiptiese hiërogliewe gegrond, maar bestaan uit slegs twee-en-twintig letters.
Die Fenisiese alfabet is baie belangrik, aangesien dit ’n skakel geskep het tussen die alfabette van antieke beskawings en ons eie alfabet wat ons vandag steeds gebruik. Die hoofrede hiervoor hou verband met een van die bepalende eienskappe van die Fenisiërs – hulle was handelaars. Fenisiese handelaars het langs die Mediterreense kus af gevaar en met gemeenskappe langs die pad handel gedryf. Dit is hulle handelsbedrywighede wat hulle in aanraking gebring het met die ontwikkelende Griekse beskawing, en op hulle beurt het hulle alfabet ’n groot invloed op die Griekse skrifstelsel uitgeoefen. Soos reeds genoem, is die Fenisiese alfabet ten minste gedeeltelik op Egiptiese hiërogliewe gegrond, en is dit die alfabet wat die Fenisiërs na die vroeë Griekse beskawings oorgedra het. Die alfabet wat ons vandag gebruik, is ontwikkel uit die alfabet en skrifstelsels wat die Grieke en die Romeine ontwikkel het.