Die probleem was dat hulle meer op die verlede gefokus het en dit moeilik gevind het om die beweging na ’n meer moderne styl te ontwikkel. ’n Ander rede was dat dit baie duur was. Handgemaakte produkte is baie duur, wat hulle slegs beskikbaar gemaak het vir die rykes wat dit kon bekostig.
As gevolg van die fyn aard van hierdie handgemaakte produkte was die produksieproses tydrowend en nie geskik vir massavervaardiging nie. Al hierdie produkte was nie finansieel lewensvatbaar nie. Hulle veldtog teen die kwessie van aaklige massavervaardigde goedere het uiteindelik misluk omdat hulle ideale nie volhoubaar was nie. Dit het eenvoudig verouderd geraak.
Hoe hou dit met ontwerpprodukte van vandag verband?
Vir klasbespreking
Daar is vandag ’n herlewing van handgemaakte produkte. Hou ’n klasbespreking oor hierdie herlewing in ’n Suid-Afrikaanse konteks. Verwys spesifiek na die gebruik en integrasie van inheemse kennis om hoëvlak ontwerpprodukte, omgewings, sowel as kunsvlyt items te ontwikkel wat unieke Suid-Afrikaanse ontwerpstyle reflekteer. Motiveer jou bevindinge.
2 PROJEK Doen die volgende in jou werkboek:
Plak ’n paar voorbeelde van massavervaardigde stoele of produkte, asook hulle pryse as dit beskikbaar is. Kyk na katalogusse of neem foto’s in winkels van die goedkoopste items wat beskikbaar is. (Onthou om toestemming te vra as jy ’n foto wil neem!)
Nou moet jy soek na ’n paar ontwerperstoele of produkte wat deur ontwerpers wat jy ken gedoen is, en sluit hulle pryse in. Vergelyk nou die verskille en ooreenkomste as daar is. Vergelyk die prys, fatsoen, kleur, tekstuur, funksionaliteit en kostedoeltreffendheid. Bespreek jou bevindings en vergelyk notas met jou klasmaats. Skryf al jou bevindings neer en vergelyk dit met die handgemaakte ontwerpe van die Kuns- en Handwerkbeweging teenoor massavervaardigde goedere van daardie tyd.
*Jou onderwyser kan vir jou die name van ontwerpers gee wie se produkte hier in Suid-Afrika gemaak en verkoop word.