OPPERVLAKONTWERP Siirtolapuutarha-materiaal van Marimekko
Dié ontwerp, wat Siirtolapuutarha genoem word, is deur Maija Isola en Louekari ontwerp. Dit is ’n goeie voorbeeld van Marimekko- tekstiele. Dit is ’n ietwat later ontwerp, aangesien Marimekko aanvanklik nie van plantontwerpe gehou het nie maar eerder van abstrakte ontwerpe. Koel kleure van blou en groen skakerings kom in hierdie ontwerp voor.
Die blomme is gestileerd tot eenvoudige sirkelvorms wat so tipies van Skandinawiese ontwerpe is. Lyn is gebruik om die ontwerp interessant te maak en tekstuur te skep, en is regoor die ontwerp herhaal. Die lyne se kwaliteit en dikte wissel en word op verskillende maniere herhaal.
Dis veral die sirkelvorms wat in kleiner en groter formaat regdeur die ontwerp herhaal word. Die kleiner sirkels voeg tekstuur en detail by.
Ritme word met die herhaling van die lyne en sirkels geskep.
Kontras word met die donker lyne teen die wit agtergrond geskep.
OMGEWINGSONTWERP Helsinki-kultuursentrum deur Aalvar Aalto
Die kultuursentrum is ’n eenvoudige vorm van rooi baksteenbekleding en dien as ’n sentrum vir die kultuurwerk van verskillende vakbondorganisasies.
Dit is oorspronklik ontwerp vir die kommunistiese party in Helsinki wat toe in beheer was. Die gebou bestaan uit drie duidelike dele: kantore, lesing- en konferensielokale en ’n konsertsaal. Die kantoorgedeelte het vyf verdiepings met 110 kantore, vergaderlokale en twee woonstelle. In die lesing- en konferensiegedeelte (in die middel van ’n U-vormige kompleks) is ’n lesingsaal, studielokale, besprekingslokale, ’n biblioteek en ’n rekordkamer. Die konsert- en kongressaal vorm die hoofdeel van hierdie groep. Die saal het 1 500 sitplekke en ’n 200 m2-verhoog. Dit word hoofsaaklik vir konserte gebruik, maar wel ook vir lesings. Die onderskeie dele van die gebou is straatlangs met mekaar verbind deur ’n afdak van 60 m, waaronder jy die hoofingange sal aantref.
Helsinki-kultuursentrum deur Aalvar Aalto, in 1952 ontwerp en in 1958 voltooi.