• Getuigskrifte. Twee of drie mense wat iets oor jou kan sê, word gewoonlik hier gelys. Dit kan ’n werkgewer (een van jou vakansiewerke) of jou kunsonderwyser wees – geen oumas of kêrels/meisies nie! Jy kan ook eenvoudig sê “op versoek beskikbaar”, wat beteken dat as hulle dit wil opvolg, jy met graagte die getuigskrifte met die kontakbesonderhede vir hulle sal gee.
Algemene wenke
• Jou CV moet verkieslik in swart ink wees en in ’n eenvoudige lettertipe getik of BAIE netjies op goeie gehalte A4-wit/roomkleur papier geskryf word. Dit is jou eerste kans om ’n goeie indruk te maak en ’n vuil, slordige CV beland baie gou op die “NEE”- hopie. Dekoratiewe randjies is nie nodig nie en foto’s van jouself moet baie oordeelkundig aangeheg word. Maak seker dat die foto van ’n goeie gehalte is en ’n positiewe byvoeging tot jou CV sal wees.
• Selfs later in jou lewe moet jou CV verkieslik nie langer as twee bladsye wees nie en nooit meer as drie nie. Tyd is baie belangrik en voornemende werkgewers het nie baie tot hulle beskikking nie. As ’n potensiële werkgewer deesdae deur tien bladsye staaltjies, foto’s en onnodige inligting moet worstel, het dié aansoek heel waarskynlik al in die snippermandjie beland. Maak seker dat die inhoud duidelik, gestruktureerd, bondig en tersaaklik is. Die gebruik van kolpunte eerder as vol sinne kan help om dit kort en op die punt af te hou.
• Die voltooide CV moet noukeurig nagegaan word vir grammatika- en spelfoute en om seker te maak dat alles sin maak. Vra iemand wat jy vertrou om die hele dokument na te gaan voordat jy dit uitstuur. Dit is baie belangrik – dink net wat dit oor jou gaan sê as jou CV vol spelfoute is?
• ’n Goeie dekbrief moet altyd jou CV vergesel. ’n Dekbrief kom op ’n aparte bladsy en word vooraan jou CV geheg. Die persoon wat jou CV ontvang, sal eers die dekbrief lees voordat na jou CV gekyk word.
Die dekbrief laat toe dat jy jouself voorstel, noem of jy voorheen met hom/haar oor die foon gepraat het en bondig sê waarom jy die CV instuur. Jy kan ook dinge byvoeg wat jy nie in jou formele CV insluit nie, byvoorbeeld “Ek is ’n opgewekte persoon wat daarvan hou om met mense om te gaan. Ek leer graag en wil baie graag ontwerp bestudeer. Dankie vir u aandag.”
Sterkte met jou aansoek!
Skryf ’n CV en dekbrief soos jy sou maak wanneer jy vir ’n plek by ’n universiteit, universiteit van tegnologie of onafhanklike kollege aansoek doen.
Gee jou CV aan jou onderwyser sodra jy die projek afgehandel het. Dit moet netjies en professioneel gedoen wees.