Die eienskappe en stilistiese elemente van Art Nouveau kan dus soos volg opgesom word:
• Gebruik van gestileerde, kronkelende en vloeiende, lang, golwende, organiese lyne • Lang, liriese lyne gebruik op ’n elegante en grasieuse manier of deurspek met sterk ritmiese en sweepslagkragte.
• Vertikale lyne en die gebruik van ’n langer formaat • Gebruik van matige en donker kleure. Die kleure wat die meeste gebruik word, is mosterdgeel, donkerrooi, olyfgroen, bruin en ’n sporadiese gebruik van violet en blou.
• Asimmetriese ontwerpe • Blomstingels, -knoppe, insekvlerke, wingerdranke en verskeie natuurlike, dikwels delikate, voorwerpe
• Gereelde gebruik van vroulike figure met lang, vloeiende hare
13 PROJEK
Jy is nou baie meer met die Art Nouveau-styl vertroud en weet dat al het die styl aan die einde van die 19de eeu voorgekom, put ons steeds vandag inspirasie uit style van lank gelede soos Art Nouveau, aangesien talle aspekte van die beweging vandag nog van toepassing kan wees. Daar is tans ’n beweging weg van massaproduksie en ’n ontwaking, respek en waardering vir ’n eenvoudiger leefwyse en vakmanskap. In die lig hiervan wil ons hê dat jy jou eie geïllumineerde letter moet ontwerp en die Art Nouveau-styl as inspirasie gebruik.
Jy moet eerstens onthou dat Art Nouveau ’n styl van stilering is. Is jy seker dat jy weet wat dit beteken?
Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal: As iets gestileer is “word dit aan(ge)pas by ’n grondvorm (en) in vlak tekening simmetries weer(ge)gee”. ’n Kunswoordeboek verduidelik dit as ’n konvensionele of vasgestelde vorm wat op kunswerke toegepas word. (omskrywing van stileer as werkwoord in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal 5de uitgawe)
Hierdie styl het ook ’n aspek van vereenvoudiging en onnodige detail word weggelaat. Jy kan waarskynlik nou sien hoe die term “gestileer” met Art Nouveau verband hou. Dit vereenvoudig en reduseer komplekse en gedetailleerde voorwerpe uit die natuur tot die styl van die dag: Art Nouveau. Natuurlike voorwerpe soos blare, blomknoppe, wingerdlote en blomme word met ander woorde gestileer om aan die eienskappe van die Art Nouveau-styl te voldoen. Ander style maak ook gebruik van die proses van stilering, maar die resultate kan moontlik glad nie soos Art Nouveau lyk nie!