Suid-Afrika het ook ’n sterk revolusionêre geskiedenis met talle stukke weerstandskuns in die vorm van skilderye en beelde wat geproduseer is. Wanneer jy die plakkate ontleed wat met die weerstandsbeweging in Suid-Afrika verband hou, kan ’n aantal ooreenkomste met die plakkate van Kuba geïdentifiseer word. Albei het ’n sterk illustratiewe kwaliteit wat ’n kenmerkende “handgemaakte”-kwaliteit aan die plakkate gee. Die kleure is beperk, met meestal drie of minder kleure wat in een plakkaat gebruik word. Dit was ’n bewuste besluit om die produksiekoste laag te hou. Tipografie is dikwels met die hand aangebring en die onreëlmatige kwaliteite versterk die “handgemaakte” kwaliteit van die plakkate. Wanneer jy kyk na ’n plakkaat wat presies op ’n rooster met standaardlettertipe en fotografie uitgelê is, kan die effek dikwels redelik meganies en selfs “koud” voorkom.
Visuele kommunikasie met ’n sterk menslike element, byvoorbeeld tekeninge of handgemaakte lettertipe, gee erkennig aan die persoon wat dit gemaak het, terwyl dit heeltemal verlore gaan wanneer dit met ’n masjien gedruk is. Die kontak tussen die kyker en die ontwerper, kunstenaar of skepper is direk en intiem. Dit is nie te sê dat die visuele media wat nie handgeproduseer is nie, nie die aandag kan trek nie, maar slegs dat die persoon wat dit geskep het, nie duidelik sigbaar is nie. Voorbeelde van plakkaatontwerp in Suid-Afrika vanaf die 1980s weerspieël ’n aantal onderwerpe soos die volgende: ’n oproep om te veg, eise vir gelykheid, vra vir boikotte, ens. Hierdie plakkate verteenwoordig ’n tyd in Suid-Afrika se geskiedenis wat deur ongelykheid en rassevooroordeel gekenmerk is en die visuele media vertoon hierdie rou en emosionele atmosfeer.
SA-weerstand - mynbou: Hierdie plakkaat is ter gedagtenis aan die 177 mynwerkers wat by Kinross gesterf het. Die plakkaat wil hierdie gebeurtenis as platform gebruik vir steun vir die struggle om die veiligheid van alle mynwerkers te verseker.