Campbell’s- sopblikafdruk deur Popkunstenaar Andy Warhol
Popkuns was een van die eerste kreatiewe velde wat krities na die 50s se samelewing gekyk het en die geldigheid van die era se kultuur bevraagteken het, maar dit sou ’n ander kreatiewe veld wees wat ’n jeugopstand sou begin – musiek, en meer spesifiek Rock ’n Roll. Elvis Presley, Bill Hailey, Jerry Lee Lewis, Little Richard en talle ander het elke reël van die aanvaarde musiek en gedrag van die 50s verbreek en die jeugopstand aangevuur wat die samelewing en populêre kultuur vir ewig sou verander. Die 1960s het bekend geword as die tydperk van verandering, toe tieners van hulleself bewus geword het en die dryfveer was in reklame en verbruikersbewustheid, asook met die oortuigings en houdings van die tydperk. Met die opkoms van die jeugkultuur is die tradisionele funksionalistiese style van die 50s vervang met style wat kleur, uitdrukking en die konsep van verandering omarm het. Ontwerp was nie langer staties en konserwatief nie, maar oordadige, dekoratiewe en antifunksionalistiese ontwerpe het eerder gewild geword in produkte, meubels en binnenshuise ruimtes – met die populêre kultuur as verwysingsraamwerk. Ondersoek van niefunksionalistiese visuele uitdrukking soos optiese illusies het deel geword van die norm en die basis gevorm vir ontwerp wat as Op-kuns bekend gestaan het.
OP-KUNS - 1960S
Op-kuns, of “optiese kuns” het sy naam gekry van ’n artikel in die tydskrif Time wat in 1964 gepubliseer is. Brigit Riley het een van die invloedrykste kunstenaars binne die beweging geword. Die hoofdoel van die optiese kuns was om die oog die illusie te laat glo deur die kleure en lyne in wiskundige komposisies te plaas. Die styl was revolusionêr deurdat dit nie ’n tradisionele voorwerp of onderwerp voorgestel het nie – geen portrette, landskappe of stillewes nie. Die werk het slegs ’n konsep en ervaring uitgebeeld. Op-kuns is regdeur die 1960s in die populêre kultuur opgeneem en het ’n glanspunt op binnemure, in reklame, kleredrag en teaterstelontwerp geword.
Opkunsstuk getiteld “Current” deur Bridget Riley. Die fokus van Opkuns was om ’n visuele illusie met vorm en kleur te skep.