Jou keusevak Ontwerp in Graad 10 het jou van al die basiese bestanddele en boublokke van die opwindende wêreld waaruit die kreatiewe industrieë bestaan, geleer, asook hoe ontwerp verweef is in alles wat ons doen. Ons het erken dat ontwerp gewoonlik ‘gesien word as luukse-items, soos byvoorbeeld uitspattige juweliersware, klere en duur motors’, maar saam het ons ook ontdek dat ontwerp ’n baie groter en waardevoller rol speel in die verbetering van ons lewens standaard, die ekonomie en die planeet. ‘Die menslike spesie het nog altyd, sedert die Steentydperk tot op hede, sekere basiese behoeftes getoon om te kan oorleef, te kan kommunikeer, te kan reis en te kan eet, om nie eers te praat van basiese mediese versorging en beskerming teen die elemente nie’.
Dus, noudat jy ’n beter begrip het van hoe ontwerp by die samelewing geïntegreer is, sal dit vir jou baie makliker wees om die historiese konteks wat ’n invloed het op tendense en selfs ontwerpprodukte, omgewings, sisteme en prosesse wat ons vandag sien en gebruik, te ondersoek, te herken, te kommunikeer en te verstaan. As jy eers ’n meer holistiese begrip het van al die invloede, kenmerke en selfs tendensaanwysings van ’n spesifieke tyd/era en meer leer van hoe kreatiewe denke vandag gebruik word om ’n meer volhoubare wêreld te ontwerp, sal jy besef dat die wêreld van ontwerp een van die opwindendste en lonende industrieë is.
Dus hou ons voet by stuk – ‘Geen kultuur of land kan klaarkom sonder selfs die basiese wat verskaf word deur die Kreatiewe Industrieë, nie. Ontwerp is gevolglik nie ’n luukse nie, maar eerder ’n noodsaaklikheid wat op menslike behoeftes reageer.’ – Ontwerp Graad 10
In jou Graad 11-jaar gaan ons beslis die saak verder voer en jou nie net van die Geskiedenis
van Ontwerp leer nie, maar ons het ook ’n meer holistiese benadering in die leer van elke beweging wat binne ’n meer wêreldse konteks voorgestel word. Hierdie benadering is meer inklusief en belig onvolhoubare besluite wat deur daardie tyd se manier van nuwe tegnologie en die opgang van verskillende sosiale en politieke bewegings beïnvloed is. Dit ontbloot natuurlik ook die groei van verbruikerisme.
Nog nooit van tevore was die integrasie van ontwerp-denke by alle industrieë so duidelik en noodsaaklik nie. Ons gebruik die Geskiedenis van Ontwerp as ’n waardevolle instrument om van die verlede te leer en sodoende ook die hede en die toekoms te belig. Die rol van die ontwerper het drasties verander en dit is eenvoudig nie meer genoeg om net nog ’n luukse-item vir ’n klein eksklusiewe groepie te ontwerp nie. Ja, die nuwe era se kreatiewe denker/innoveerder/ entrepreneur is besig om te verander in ’n baie meer verantwoordelike en ingeligte burger, wat verandering verwelkom en graag ’n meer verantwoordelike rol wil speel. Dit is vir ons om te leer en te ondersoek hoe om ons kreatiewe vaardighede in ’n verskeidenheid sektore te mobiliseer sodat ons meer volhoubare stede, gemeenskappe, omgewings en ekonomieë kan ontwikkel vir ’n meer vooruitstrewende môre. Ons noem dit: sorg vir die drieledige eindresultaat! (mense, planeet, ekonomie)
Ons vertrou dat jy gereed is om weer hierdie opwindende reis saam met ons aan te pak! Suid- Afrika is steeds ’n land met groot moontlikhede. Kom ons gee aan jou die mag om deur kreatiwiteit ’n beter Suid-Afrika vir ons almal te bou.
Mag jou graad 11-jaar alles wees wat jy wil ontwerp!