Baie 20ste eeuse kuns is oor kuns (kuns vir kuns) en is nie ’n prent van die wêreld nie. Die kyker moet kennis van die teorie hê waarop die werk gebaseer is om dit te verstaan. Modernisme bestaan uit ’n opeenvolging van style van “ISMES”. Verandering en die skepping van nuwe maniere van uitdrukking is belangrik. Die skeiding tussen die kunstenaar en die samelewing het baie duidelik geword tydens die 20ste eeu – meeste mense se kulturele
behoeftes is vervul deur die massamedia. Die kunstenaar werk vir homself en vir ’n ingeligte kykerskap. Daarom het kuns ’n dikwels elitistiese aktiwiteit geword en is die kunstenaar beskou as iemand wat geïsoleer was van die gewone persoon. Om kuns in die 20ste eeu te verstaan, moet ’n mens dit benader met ’n oop gemoed en soveel kennis as moontlik opdoen oor die styl en die konteks daarvan in tyd en in die samelewing.