SALVADOR DALI, METAMORPHOSIS OF NARCISSUS, 1937. OLIE OP DOEK
In Te persistance of memory (24 x 33 cm) skep Dali ’n verlate ruimte waarin tyd stilstaan. ’n Vreemde son wat nooit gaan sak nie, verhelder die landskap. Die klowe in die agtergrond is eintlik afkomstig van ’n plek in Katalonië waar hy grootgeword het. ’n Amorfe kreatuur slaap op die voorgrond. Dit kan Dali se eie gesig wees met lang ooglede wat insekagtig lyk. Dali het ’n sakhorlosie oor die kreatuur drapeer. ’n Ander horlosie hang soos ’n pannekoek van die tak van ’n dooie boom af wat onverwags spruit uit ’n blokagtige argitekturele vorm. ’n Derde horlosie hang half oor die kant van hierdie reghoekige vorm, langs ’n klein horlosie wat gesig na onder op die blok lê. Miere swerm misterieus oor die klein horlosie, terwyl ’n vlieg oor die gesig van die horlosie langs die kleiner een loop. Dit is of hierdie horlosies uit ontbindende organiese lewe bestaan, sag en taai. In hierdie werk word algemene voorwerpe geleidelik voorwerpe uit ’n nagmerrie. Die horlosies verwys duidelik na verbygaande tyd, maar die sagtheid van hierdie instrumente wat die tyd hou, maak hulle onvertroubaar. Die horlosies word “soos verrottende vlees” wat miere en vlieë aanlok en wat voorstel dat alle dinge tot ’n einde moet kom. Dali het hierdie fantasie met ’n presiese skildertegniek geskilder en aandag aan detail gegee om die kyker te oorreed van die werklikheid van hierdie toneel. Dali het sy werke “handgeskilderde droomfoto’s” genoem. Die kleure, wat uit koel bloue en gele bestaan, herroep die palet van Jan Vermeer.
SALVADOR DALI, THE PERSISTENCE OF MEMORY, 1931. OLIE OP DOEK