PAUL CÉZANNE (1839 – 1906) “Die vader van moderne kuns”
Cézanne is in Aix-en-Provence as die seun van ’n ryk bankier gebore. In 1861 is hy Parys toe gestuur om regte te studeer. Binne ’n kort tydperk het hy sy pa oorreed om hom toe te laat om kuns te studeer. Hy was ’n teruggetrokke student wat, terwyl hy op sy eie gewerk het, meer oorspronklike lyne as die meerderheid studente ontwikkel het. Sy vroeë skilderye se toon was donker, en hy het dikwels gewelddadige of sinistêre onderwerpe uitgebeeld – ’n moord, ’n dwergagtige skildervriend – of die erotiese en die vreemde. Die Salon des Refuses se uitstalling in 1863 was ’n openbaring vir Cézanne. Onder die invloed van die Impressioniste het hy begin om ’n wyer reeks kleure te gebruik. Pisarro
het Cézanne aan die landskapskildery blootgestel. Cézanne het ook ’n intensiewe studie van die Ou Meesters in die Louvre gemaak. Hy het bewus geword van die swakheid van Impressionisme en het gesê dat hy van Impressionisme iets sterk en duursaam wou maak, soos getoon in die werk van die Ou Meesters. In 1883 het hy Parys verlaat en na Aix teruggekeer. Na die dood van sy pa was hy finansieel welaf en kon gevolglik sy eie styl ontwikkel. Hy was ’n vurige en afgesonderde mens wat in toegewyde afsondering gewerk het. In 1895 het hy sy eerste groot uitstalling gehou en vanaf 1900 is hy as ’n genie beskou.
Invloede • Cézanne is beïnvloed deur kunstenaars soos Delacroix en Courbet – hy het die struktuur in hulle werk bewonder. Cézanne het ook ’n intensiewe studie gemaak van die Ou Meesters in die Louvre.
• Impressionisme: Die helder palet van die Impressioniste het hom beïnvloed, maar hy het gevoel dat hulle struktuur en vorm afgeskeep het oor hulle beklemtoning van kleur en kwashale. “Ek wil (van) Impressionisme iets solied en ewigdurend maak, soos die kuns in die museums.”
• Mont Sainte-Victoire. Die Sainte-Victoire-berg naby Cézanne se huis in Aix-en-Provence was een van sy gunsteling onderwerpe en hy het dit glo meer as 60 keer geskilder. Hy is gefassineer deur die ongelyke argitekurele vorme in hierdie berge. Cézanne het dieselfde toneel vanuit verskillende hoeke geskilder.