SALVADOR DALI, BURNING GIRAFFE, 1936. OLIE OP DOEK
SALVADOR DALI, DREAM CAUSED BY THE FLIGHT OF A BEE AROUND A POMEGRANATE ONE SECOND BEFORE WAKING UP, 1944. OLIE OP DOEK
In Surrealisme kan twee tendense, naamlik outomatisme en die droomwêreld, geïdentifiseer word, alhoewel baie kunstenaars albei gebruik het.
Outomatisme Outomatisme was die Surrealiste se term vir Freud se tegniek van vrye assosiasie, wat hy ook gebruik het om die onbewuste gedagtes van sy pasiënte te ontbloot. In hierdie tendens is ’n nuwe vorm van abstrakte kuns ontwikkel. Dit word gekarakteriseer deur organiese, biomorfiese en amoeba-agtige vorms. Die onderbewuste verstand skep in ’n hipnotiese toestand kleure, lyne en vorms. Kreatiwiteit is outomaties en die gebruik van toeval is belangriker as rasionele gedagtes. Om hulle te help met die vrye vloei van die onbewuste het hulle outomatisme gebruik om te begin teken of skilder sonder enige vooropgestelde idees (soos krabbels) om toevaleffekte te skep.
Hulle het dikwels spesifieke tegnieke gebruik om die onbewuste gemoed vry te stel, soos: • Frottage, waar ’n mens ’n stuk papier op ’n getekstureerde oppervlak plaas en met ’n potlood daaroor vryf en dit dan gebruik om ’n kunswerk te inspireer.
• Dekalkomanie, waar swart verf op ’n stuk papier gesmeer word en ’n ander vel papier liggies bo-op dit geplaas en dan versigtig opgelig word net voordat die verf droog word. Die effek daarvan is gebruik om ’n kunswerk te skep.
• “Outomatiese handskrif,” waar ’n mens begin teken sonder ’n vooropgestelde idee en dan simbole en figure in die tekening identifiseer.
• Mengsels van olie, water en verf lei tot spontane effekte. Hierdie tekeninge kon dan verander word in beelde deur die rasionele brein te gebruik.