Edgar Degas (19 Julie 1834 – 27 September 1917) is as Hilaire-Germain- Edgar De Gas gebore en was ’n Franse Impressionistiese kunstenaar beroemd vir sy werk in skilder, beeldhouwerk en tekenkuns. Hy was ’n uitstekende tekenaar wat veral geïdentifiseer het met die onderwerp van die dans, en meer as die helfte van sy werke beeld dansers uit. Die kunswerke beeld sy meesterlikheid in die uitdrukking van beweging uit, net soos sy resiesbaanonderwerpe en vroulike naakstudies.
Weens sy belangstelling in beweging, was ballet een van Degas se gunsteling-temas. Hy het eindelose tekeninge van die dansers gemaak tydens hulle daaglikse oefensessies en uit hierdie studies het hy sy skilderye van die ballet ontwikkel. Hy was meer geïnterreseerd in die voorbereidings vir die ballet as in die werklike opvoering. Die dansers strek, gaap, krap en neem verskillende houdings met hulle liggame aan terwyl hulle wag vir hulle beurt om op te tree. Degas vermom nie die taamlike gewoonheid van hulle gelaatstrekke nie wat tydens die finale opvoering sal transformeer soos die dansers bedeeld word met skoonheid en grasie. Die onderwerp van hierdie werk is ’n dansklas wat deur ’n meester van ballet gehou word. Die toneel is ’n versigtige rangskikking van wat voorkom as ’n lukrake versameling van posture en houdings. Een ballerina, wat die sentrale fokus van die komposisie is, is besig om te dans terwyl die ander om haar rondstaan, klaarblyklik terwyl hulle hul beurt afwag. Sommige verander hulle kostuums, terwyl ander slegs sit of staan in verskeie posture. Soos meeste van die dansers in Degas se werke, tree hierdie ballerinas nie op nie. Degas het hulle vasgevang in die gewone omgewing van die oefensaal. Die asimmetriese komposisie met ’n groot oop ruimte in die regter onderste hoek is tipies van Degas en die tegniek nooi die kyker binne-in die werk in. Hierdie effek word beklemtoon deur die lyn perspektief van die vloerplanke. Die dansers vorm ’n halfsirkel rondom die linkerkant. Daar is elemente wat ons uit die skildery se raam trek, soos deel van ’n danser se skoen en tutu aan die regterkant en die plafonne en gietvorms wat afgesny is om in die skildery in te pas. Die kleur rooi kom voor in die blom in die danser se hare in die voorgrond, in die dansmeester se hemp en in die tjalies van een van die dansers se ma’s. Die vertikale lyne van die spieël herhaal aan die vertikale lyne van die dansmeester se kierie.
“Hulle noem my die skilder van dansers. Hulle verstaan nie dat die danser vir my ’n preteks is om mooi materiale te skilder en om beweging uit te druk nie.” - Edgar Degas