Marcel Duchamp (28 Julie 1887 – 2 Oktober 1968) was ’n Franse kunstenaar wat deur sommige mense beskou word as een van die belangrikste en invloedrykste kunstenaars van die 20ste eeu.
Die Franse kunstenaar, Duchamp, was ’n hoogs suksesvolle skilder met sy variasies van verskillende avant-garde style. Tydens die Armory-uitstalling in 1913 in New York het sy futuristies-geïnspireerde Nude Descending a Staircase die onderwerp van spot geword van strokiesprenttekenaars en is dit beskryf as “’n ontploffing in ’n dakspaanfabriek.”
“Ek het daaroor gedink om estetika te ontmoedig … ek het die bottelrak en die urinaal in hulle gesigte gegooi en nou bewonder hulle dit vir die estetiese
skoonheid daarvan.” - Marcel Duchamp
In 1915 het Duchamp die skilderkuns byna heeltemal gelos toe hy weg is uit Frankryk na Amerika toe.
ANTI-KUNS EN DIE “READY MADE” As gevolg van sy afgryse teenoor die heersende orde in kuns het hy tot ’n logiese afleiding oor sy verwerping van kuns en die betekenisloosheid van die wêreld gekom. Hy bespot tradisionele kunswaardes deur vervaardigde voorwerpe te kies en dit as kuns te verklaar, bv. ’n fietswiel wat op ’n stoel gemonteer is. ’n Voorwerp word kuns omdat die kunstenaar dit as kuns verklaar, byvoorbeeld die Bottle Rack en Fountain.
Die “ready-made” is ’n alledaagse vervaardigde voorwerp wat “kuns” word as gevolg van die kunstenaar se besluit. Dit is ook anti-kuns omdat dit teen die idee gekant is dat die kunswerk harde werk verg. Duchamp het gesê dat die keuse van die onderwerp nie ’n keuse behoort te wees nie, aangesien dit sonder estetiese kwaliteite is en slegs as kuns bestaan omdat die kunstenaar daarna gevoel het om dit te kies. Dit is anti-kuns omdat dit gekant is teen die idee van die uniekheid van ’n kunswerk en ’n bespotting maak van die kunsmuseumstelsel. Dit sê dat enigiets kuns is, wat daartoe moet lei dat niks kuns is nie, of dat niks waardevol is nie.
MARCEL DUCHAMP, NUDE DESCENDING A STAIRCASE, 1912. OLIE OP DOEK
Die Fountain is ’n industrieel-vervaardigde urinaal, waaraan die kunstenaar drie veranderinge gemaak het: 1. Hy het dit op ’n voetstuk geplaas 2. Hy het dit geteken en dit dateer 3. Hy het dit ingeskryf vir ’n kunskompetisie.