Die Franse Akademie vir Kuns is in 1648 gestig deur kardinaal Richelieu en het die skepping van Franse kuns tot aan die einde van die 19de eeu gedomineer.
Die Salon was die amptelike twee jaarlikse uitstalling van kunswerke in die Louvre. Alle kunstenaars wat deur die jurie van die Akademie goedgekeur is, kon daaraan deelneem. Daar was geen ander publieke uitstallings nie. Gedurende die 19de eeu het die Salon-uitstallings omvangryk geword en is as belangrike vertonings beskou waartydens duisende werke uitgestal is en duisende verwerp is. Die Salon het tydens die eerste week in Mei van elke jaar geopen. Toegang was een frank, wat bekostigbaar was vir werkende mense. Gevolglik het die waardering vir Salon-kunswerk oor alle sosiale klasse gestrek, soos in die geval van flieks vandag. Meeste van die vernaamste Franse kunstenaars van die 19de eeu het aan die Salon deelgeneem. Sukses by die Salon kon ’n kunstenaar se reputasie vestig en het tot winsgewende opdragte deur die staat gelei. (Die Salon van 1855 het ’n kamer elk aan Delacroix en aan Ingres gewy, en elkeen het belangrike erepenning ontvang.)
DAUMIER, ’N SATIRIESE SPOTPRENT WAT ’N STORMLOOP MENSE BY DIE SALON UITBEELD, 1852.
Die mees invloedrykste vorm van akademiese kuns was “geskiedenis-skilderkuns”, wat klassieke, godsdienstige, mitologiese, literêre en allegoriese onderwerpe ingesluit het. Daarna het genre- skilderkuns, portretkuns, stillewe-skilderkuns en landskapskap-skilderkuns gevolg.
Die Ecole des Beaux-Arts (Skool van Skone Kunste) in Parys was die invloedrykste kunsskool vir 19de eeuse Franse kuns. Studio’s, modelle en klasse is beskikbaar gestel aan studente, maar die onderrig het toenemend vervelig en ongeïnspireerd geword. Die styl van leer was gebaseer op die klassieke samelewings en studente moes gipsmodelle uit die klassieke periode naboots. Alle studente moes hulle vaardighede bewys deur basiese tekenkunstake te voltooi voor hulle kon vorder tot figuursketse en skilderwerk. Dit het soos ’n fabriek geword wat kuns vir publieke smaak vervaardig het met historiese tonele, mooi naakstudies, sentimentele narratiewe en heldhaftige werke. Baie van die beroemde Franse kunstenaars, soos Delacroix, Ingres en Gericault, is egter daar opgelei.