“Die enigste manier om ’n groot kunstenaar te word, is deur die nabootsing van die antiekes. Kuns moet gemik word op adellike eenvoud en kalm grootsheid” - Johann Winckelmann
1750 – 1815 FRANKRYK
AGTERGROND Die politieke en sosiale strukture in Frankryk was in ’n kritieke toestand na 1750. Die staat was byna bankkrot en die groot middelklas was moeg daarvoor om deur die aristokrasie onderdruk te word. Hulle wou die reg hê om te stem en hul wou minder belasting betaal. Tydens die uiterse politieke en ekonomiese krisis in Frankryk in 1789 het die Franse Revolusie ontstaan. Die oorspronklike doelwitte daarvan, om ’n konstitusionele monargie te skep en om die finansiële en politieke struktuur van die nasie te hervorm, het vinnig ontwikkel in ’n beweging om die koning tot ’n val te bring en om ’n republiek te vestig. Tydens die verloop van die revolusie is yslike eiendomme van die Rooms-Katolieke Kerk, asook van die leenhere, deur die regering oorgeneem en aan die bourgeoisie (middelklas) en kleinboere verkoop. In 1792 is Frankryk tot ’n republiek verklaar. Die revolusionêre beweging het tot die Skrikbewind gelei waartydens duisende aristokrate om die lewe gebring is.
Die middelklas het beheer geneem, maar die revolusie wat veronderstel was om vryheid aan almal te gee, het onverwags die slagoffer van sy eie suksesvolste militêre leier geword. Onder die diktatorskap van Napoleon Bonaparte is ’n kolossale militêre mag op Europa losgelaat. Hierdie tydperk het in 1815 geëindig met Napoleon se nederlaag by Waterloo. Europese monargieë is as kwesbaar vir aanvalle blootgestel en revolusies het plek-plek uitgebreek tydens die 19de eeu. Idees van vryheid en gelykheid is regdeur Europa versprei.
JACQUES-LOUIS DAVID, NAPOLEON AT SAINT BERNARD PASS, 1801.
DIE LAKSMAN WAT KONING LOUIS XVI MET DIE
GUILLOTINE ONTHOOF HET, WYS DIE KONING SE KOP VIR DIE SKARE.