Die term “Neo-Impressionisme” is in 1886 vir die eerste keer deur die Franse kunskritikus Félix Fénéon gebruik om ’n kunsbeweging te beskryf wat deur Georges Seurat en Paul Signac gestig is. Volgelinge van Neo-Impressionisme is veral aangetrek deur moderne stedelike tonele asook landskappe en seestrande. Neo- Impressionisme was die logiese gevolg van die Impressionistiese tegniek. Dit is ’n intellektuele benadering tot Impressionisme. In teenstelling met die Impressioniste se vlietende kleurontwerpe en toevallige komposisies, is die werk haarfyn beplan en in groot detail uitgewerk. Een van die sleutelgebruike was die idee van optiese vermenging. In plaas daarvan om kleure op die palet te meng voor dit op die doek geplaas is, wat veroorsaak dat hulle hul helderheid verloor, is kleure in aparte kolle en sonder om dit te meng op die doek geplaas sodat dit deur die oë van die kyker gemeng kon word. Kunstenaars het die term divisionisme verkies vir hulle tegniek om kleure in klein hale langsaan mekaar te plaas om optiese vermenging te veroorsaak. (Die Impressioniste het hierdie tegniek op ’n spontane manier gebruik.)
GEORGES SEURAT, YOUNG WOMAN POWDERING HERSELF, 1889 – 1890. OLIE OP DOEK
Die term pointillisme word ook gebruik vir die Neo-Impressioniste se tegniek om kwashale tot kolle te sistemiseer. Hierdie styl kan beskou word as die eerste “wetenskaplike” styl, aangesien kunstenaars probeer het om ’n teorie in hulle werk te toon. Hulle het hulle werk beplan deur te dink aan die rigting van lyne, hoeke wat gevorm word en kleurharmonie wat ’n spesifieke gemoedstemming skep, bv. vertikale lyne, koel kleure en donker tone verteenwoordig “hartseer”. Die vlietende wêreld van die Impressioniste het verander in iets meer solied en wetenskaplik.
WIE WAS SEURAT?
“Hulle sien poësie in wat ek gedoen het. Nee. Ek wend my metodes aan, en dit is al wat dit is.” – Georges Seurat
Georges-Pierre Seurat(1859–1891) was bekend vir sy innoverende ge- bruik van tekenmedia en om ’n skildertegniek te ontwerp wat bekend gestaan het as pointillisme terwyl hy Neo-Impressionisme begin het.
GEORGES SEURAT, LA GRAND JATTE (SUNDAY AFTERNOON ON THE ISLAND OF LA GRAND JATTE), 1884 –1886. OLIE OP DOEK. 205 X 308 CM.