Vir baie mense is hierdie Wright se mees poëtiese gebou en dit is amper of die huis aan die natuur opgedra is. Die huis is op ’n rotsagtige rand gebou met ’n massiewe rots wat deur die vloer penetreer om ’n basis vir die kaggel te vorm. Lyn is gebruik om die eenheid met die natuur te beklemtoon. Horisontale lyne word aangetref in die gewapende-beton-balkonne. Hierdie is herhalend en ook in lyn met die rotsformasies onderaan. Vertikale lyne word aangetref in die steenkolomme wat opwaarts uit die huis skiet. Dit stem ooreen met die omringende bome wat ook opwaarts projekteer. Die rangskikkings van hierdie horisontale en vertikale lyne is parallel met die omringende natuur en versterk die idee van harmonie met die natuur. Die kaggel is die sentrale kern van die huis. ’n Waterval vloei onder die huis deur en stort oor die rotsagtige rand. Daar is kolossale vrydraende balke wat van die kaggel af vloei en die oog na die landskap aan die onderkant toe trek. Hierdie is ’n merkwaardige, eenvoudige gebou met ’n geometriese samestelling van horisontale betonbalke met balkonne wat ’n kontras vorm met die vertikale rotsmure. Alle hoeke binne- in die huis word in glas opgelos en alle interieure is uitgebrei oor die wye balkonne tot in die landskap. Daar is ’n groter strukturele plastisiteit as ooit tevore in die vrydraende betonbalke wat uitbrei oor die klein rand. Hierdie hele gebou is die resultaat van die moontlikhede van gewapende beton en staal. Die ruimte in die huis is so vloeibaar soos die waterval. Daar is ’n sterk teksturele kontras tussen die egalige beton-oppervlakke en steenmure. Dit skep ’n organiese verhouding tussen die natuur en die gebou. Die skoonheid van die natuur word versterk deur die huis, en die huis en die omringende landskap kan nie van mekaar geskei word nie. Die plan van die tweeverdiepinghuis bestaan uit ’n woonkamer, kombuis, eetkamer en terrasse op die eerste vloer. Die slaapkamers loop ook uit op die terrasse, terwyl ’n kleiner derde vloer ’n kunsgalery bevat. Dit is ’n ode aan organiese argitektuur met die inkorporasie van die waterval en die steen wat in die skoorsteen gebruik is.
DIE GUGGENHEIM MUSEUM, NEW YORK, 1959.
In hierdie publieke museum het Wright wegbeweeg van die reguit lyn na die spiraal toe. Hy het geglo dat omdat die aarde rond is, reghoekige geboue vreemd is. Die kunsmuseum is ’n spiraal van vyf kurwes wat ’n oop skag omring. Elke daaropvolgende vloer is effens wyer sodat die gebou wyer aan die bokant is. Die gebou word natuurlik belig deur ’n glaskoepel in die dak en glasstroke wat die verskillende verdiepings van mekaar skei. Die mure leun na die buitekant toe. Skilderye op hierdie mure herskep die effek van skilderye op ’n kunstenaar se esel. As ’n kunsmuseum is die gebou nie heeltemal suksesvol nie, omdat die helder lig deur die spiraalvensters direk op die kyker se gesig skyn en die vloere nie parallel is nie. Hierdie gebou moet beskou word as ’n stuk argitekturele beeldhouwerk. Wright se beginsel van aaneenlopendheid triomfeer in hierdie gebou. Dit is asof die Kaufmann-huis se vlakke uitgerek word tot in ’n yslike spiraal wat bepaal is deur die funksie van sirkulasie. Wright word beskou as ’n meester van die manipulasie van interieure ruimte. Besoekers kan ’n hysbak na die boonste vloer neem en afstap teen ’n effens afwaartse spiraal om die kunswerke te besigtig. ’n Betonstrook verbind die museum en die administrasiegebou.