As ’n mens na die triptiek (kunswerk met drie panele) van Paul Emsley kyk, kan jy dadelik die drama en emosie van Romantisme herken.
PAUL EMSLEY. THE VISIT: ARRIVAL, THE LIFE AND THE TIME, DEPARTURE. 1987. CONTE AND CHALK ON PAPER. PAUL EMSLEY
Paul Emsley vertoon ’n atmosferiese, dramatiese lug wat ons sterk aan Romantiese kuns herinner. Selfs nog voordat die onderwerp ondersoek word, is die toeskouer bewus van ’n donker ontstellende atmosfeer. Hy het in hierdie triptiek van conté-kryt gebruik gemaak en hierdie medium slaag daarin om ’n stemmingsvolle tussenspel van donker areas en ligte fokuspunte te skep. Die tegniek wat Emsley gebruik het om sy onderwerp te vertolk, bevestig ook die gevoel van iets kortstondigs. Die titel, “The Visit” verwys na die witman se verblyf in suidelike Afrika, asook na die godsdienstige term van “besoek”. In die eerste paneel suggereer die onbeholpe figuur die ongerustheid van die witman wat Afrika binnetree. In die middelste paneel gebruik Emsley die dwerg van Velasquez om die donker kant van die realiteit uit te beeld. ’n Kruisiging ontwikkel die idee van lyding verder in ’n land waar alles nie pluis is nie. ’n Gepantserde polisievoertuig, ’n brandende ‘township’, ’n eensame bruid en ’n slapende hond wat geen notisie neem van die omstandighede romdom hom nie, kom almal vir die toeskouer te voorskyn vanuit donker rook en wolke. Soos in Romantisme speel simbolisme ’n belangrike rol. Dit blyk of die derde paneel die dood onder ’n ontploffende hemel verteenwoordig. Daar is ’n helikopter wat in die lug rond hang en ontruiming simboliseer. Figure drom saam om ’n liggaam op ’n draagbaar en ’n naakte voet strek leweloos in die donkerte in. Daar is baie temas en sub-temas, insidente en kruisverwysings om in hierdie werk te ondersoek.