Post-Impressionisme is die omvattende term vir die talle uiteenlopende reaksies teen naturalisme, asook die kwessies van lig en kleur wat die Impressioniste geïnspireer het. Die beweging, wat onstaan het teen ongeveer 1886, teen die tyd van die Impressioniste se agtste en laaste uitstalling, omvat verskeie tendense, insluitend die Neo-Impressionisme van Seurat. Dit was nooit ’n samehangende beweging nie en daarom omvat die etiket ’n hoeveelheid baie verskillende kunstenaars wat almal probeer het om Impressionisme te vervang as die voorste avant-garde beweging van die laat 19de eeu. Die term “Post-Impressionisme” is deur die Engelse kritikus, Roger Fry, in 1910 uitgedink. In hierdie afdeling gaan ons konsentreer op die werke en bydraes van drie vername kunstenaars, naamlik:
Paul Cézanne
Vincent Van Gogh
Paul Gauguin
Die drie kunstenaars is verenig deur hulle begeerte om die oppervlakkigheid van Impressionisme omver te werp. Hulle het gevoel dat die Impressioniste toegelaat het dat hulle betrokkenheid by tegniek, asook die effek van natuurlike lig, die belangrikheid van hulle werk oorskadu het. Hierdie kunstenaars se aansporing het daartoe gelei dat hulle hierdie probleem op verskillende maniere probeer oplos het. Cézanne was op soek na groter prentstruktuur, terwyl Van Gogh gefokus het op sy emosionele reaksie op ’n toneel. Gauguin was op soek na ’n dieper verbintenis met ekspressiewe en simboliese inhoud.
Kyk na hierdie portrette deur die Suid-Afrikaanse kunstenares Irma Stern en identifiseer kenmerke wat toon dat sy dieselfde gevoel gehad het as die Europese kunstenaars, dat “tegniek nie die belangrikheid van die werk self behoort te oorskadu nie”. Die geskilderde struktuur, emosionele reaksie en ekspressiewe simboliese inhoud het alles saam ‘n rol in haar werk gespeel.