“Vir my bestaan landskap nie in sy eie reg nie, aangesien die voorkoms daarvan op enige oomblik verander.” – Claude Monet
Claude Monet (1840 – 1926) was een van die eerste Franse Impressionistiese skilders en die mees konsekwente en prolifieke beoefenaar van die beweging se filosofie om ’n mens se persepsies van die natuur uit te druk, veral soos toegepas in buiteluglandskap-skilderwerk. Die term “Impressionisme” is afgelei van die titel van sy skildery Impression, Sunrise.
CLAUDE MONET, ROUEN CATHEDRAL-REEKS, 1892 – 1895. OLIE OP DOEK
Die Rouen Cathedral-skilderye is ’n reeks van meer as 30 skilderye wat tussen 1892 en 1893 gemaak is en daarna in 1894 in Monet se ateljee herbewerk is. Monet het plek oorkant die straat van die katedraal af gehuur waarin hy tydelike ateljees opgestel het om hierdie onderwerp te kon skilder. Toe Monet die Rouen Cathedral- reeks geskilder het, was hy al lank beïndruk met die manier waarop lig ’n beduidend ander karakter aan ’n onderwerp verleen op verskillende tye van die dag en die jaar, soos atmosferiese omstandighede verander. Hy het besef dat lig en intensiteit byna elke sekonde van die dag verander. Hy het dieselfde toneel oor en oor geskilder op verskillende tye van die dag om die veranderende atmosferiese omstandighede aan te dui.
Elke werk is dus ’n impressie van lig en lug volgens ’n spesifieke tyd van die dag. Hy beeld die mistige blou en goue van die vroeë oggend en die pers- oranje van die sakkende son uit. Vorm en lyn verdwyn en detail word geïgnoreer. Om die regte atmosfeer te verkry, het hy vinnig geskilder en ’n nuwe dimensie aan kuns verskaf, naamlik tyd. Verf word in duidelike kolle en
met klein hale aangewend. Hy het dik lae ryklik getekstureerde verf vir hierdie skilderye gebruik, ekspressief van die ingewikkelde aard van die onderwerp. Monet het geglo dat ’n kleur nie aan enige voorwerp behoort het nie, maar aan die oomblik van visuele ondervinding. “Wanneer jy buite toe gaan om te skilder, probeer om te vergeet watter voorwerpe jy voor jou het, ’n boom, ’n veld … Dink eenvoudig net, hier is ’n klein blok blou, hier ’n langwerpige (stuk) pienk, hier ’n strook geel en skilder dit net soos dit vir jou lyk, die presiese kleur en vorm.” Monet word dikwels beskou as die tipiese Impressionis en hy het altyd getrou gebly aan die uitdrukking van die vlietende oomblik. Paul Cézanne het oor Monet gesê dat “hy net ’n oog was, maar wat ’n oog!” In Impressionisme oorheers die oog die brein.
FOTO VAN DIE ROUEN-KATEDRAAL
ROUEN CATHEDRAL, FACADE 1, 1892 - 4
VISUELE KUNSTE GRAAD 11
ROUEN CATHEDRAL, THE WEST PORTAL, DULL WEATHER, 1892