Vito Acconci (24 Januarie 1940 - ) is in die Bronx, New York gebore. Nadat hy sy loopbaan begin het as ’n skrywer en digter wat meer besorg was oor die visuele rankskikking van woorde op ’n bladsy as die betekenis van die woorde, het hy begin om sy eerste visuele kunswerk te maak deur foto’s met teks te kombineer om taakgeoriënteerde aktiwiteite te dokumenteer. In hierdie werke het hy die kommunikasie tussen liggaam en kamera besef, wat later ’n belangrike aspek van sy werk geword het. Tussen 1969 en 1974 het hy begin om opvoerings te doen wat konseptueel goed beplan was en wat baie eenvoudig in formele terme voorgekom het. In hierdie uitvoerende liggaamswerke het hy kykers direk uitgedaag, wat dit reeds kontroversieel en uitdagend gemaak het. Hy het kommentaar gelewer oor die sielkunde van die verhouding tussen die liggaam en die openbare ruimte, die transformerende aspekte van die liggaam en die waarde van spel.
Kenmerke In die 1970-stuk Trademarks het Acconci voor die kamera gesit in ’n reeks verwronge posture en het hy soveel dele van sy kaal liggaam gebyt as wat hy moontlik kon bykom. Hy het sy motief met hierdie daad soos volg beskryf: “Om in myself in te beweeg – om rondom myself te beweeg – om te beweeg om ’n stelsel te voltooi.” Sy tande het merke gelaat op die vel van sy arms, bene en skouers. Hy het toe die bytmerke met drukkersink bedek en afdrukke daarvan gemaak. Hierdie afdrukke dien as ’n dokumentasie van die liggaam se aanval op homself. Acconci het ook bedoel dat hierdie opvoering kritiek moes lewer oor die kommersiële gebruik om ’n produk ’n handelsmerk te gee om daarmee handel te dryf, soos gedoen word deur sosiale instellings van kuns en die ekonomie.
Hierdie opvoering is nie voor ’n gehoor uitgevoer nie, maar is in foto’s gedokumenteer asook deur afdrukke wat aan die einde van die opvoering geskep is. Die foto’s met gepaardgaande teks is in die 1972- herfsuitgawe van die Avalanche-tydskrif gepubliseer. Hierdie metode van kommunikasie deur die kunstenaar het die kyker se ondervinding van Uitvoerende Kuns heeltemal verander. Die ervaring om na die foto’s te kyk, skep afstand tussen die kyker en die opvoeringsdaad omdat tyd verbygegaan het aangesien dit na die tyd besigtig word.
Terselfdertyd kan die kyker die verskillende stadiums van die opvoering van nader beskou as wat moontlik sou wees tydens die regte opvoering. Dit word duidelik vir die kyker dat om na die foto’s van hierdie veragtelike masochistiese kuns te kyk, deel is van die voltooiing van hierdie opvoering. Die kyker het ’n medepligtige geword ten opsigte van die kunstenaar se bedoeling deur na die werk te kyk en daaroor te lees. Die werk ontlok teenstellende sensasies oor die hede en die verlede, nabyheid en afstand, en verbondenheid en afsondering.
VITO ACCONCI. TRADEMARKS. 1970. FOTODOKUMENTASIE EN INKAFDRUKKE MET GESKREWE BESKRYWING.