Claes Oldenburg (gebore 28 Janurie 1929) Hierdie Sweeds-Amerikaanse kunstenaar het deelgeneem aan New York Happenings tydens die 60’s en is beïnvloed deur die Dadaïste en die Surrealiste se belangstelling in paradoks. Die werke waarvoor hy bekend geraak het, was reproduksies van kitskos- items en funksionele voorwerpe uit die daaglikse moderne lewe. Hy het hierdie beelde op ’n reuseskaal vertolk in viniel of seildoek opgestop met skuimrubber. Die yslike skaal en gemodifiseerde tekstuur van die realisties uitgebeelde voorwerpe bied soms komieklike en ontstellende kommentaar oor die waardes van kontemporêre lewe.
Oldenburg se bekendste publieke stelling is ’n manifesto wat in 1961 gepubliseer is waarvan die volgende ’n uittreksel is:
“Ek is vir ’n kuns wat polities-eroties-mistiek is, wat iets anders doen as om op sy agterent in ’n museum te sit. Ek is vir ’n kuns wat grootword en glad nie weet dat dit kuns is nie, ’n kuns wat die kans gegee word om die beginpunt van zero te hê. Ek is vir kuns wat dit toewikkel in die alledaagse snert en steeds as die wenner verskyn. Ek is vir ’n kuns wat die mens namaak, wat komies is indien nodig, of gewelddadig, of wat ookal noodsaaklik is. Ek is vir ’n kuns wat soos ’n sigaret gerook word, wat soos ’n paar skoene ruik. Ek is vir ’n kuns wat soos ’n vlag wapper, of help om neuse te blaas, soos ’n sakdoek. Ek is vir ’n kuns wat aangetrek en uitgetrek word, soos ’n broek, wat gate kry, soos kouse, wat geëet word, soos ’n stuk pastei.”
CLAES OLDENBURG. SOFT FUR, GOOD HUMOURS. 1963. HOUT, VINIEL, KAPOK, DRAAD, PLEKSIEGLAS, BEELDHOUWERKE OP METAALSTAANDERS EN GEVERFDE HOUTBASIS
CLAES OLDENBURG. SOFT TOILET. 1966.
HOUT, VINIEL, KAPOK, DRAAD, PLEKSIEGLAS OP METAALSTAANDER EN GEVERFDE HOUTBASIS
CLAES OLDENBURG. PASTRY CASE I. 1961 – 1962. EMALJEVERF OP NEGE PLEISTERBEELDHOUWERKE IN GLASVERTOONKAS