Five women in the street: Kirchner beeld sy fassinasie met die donker kant van die stad in sy werk uit. Die tema is vyf vroue, waarskynlik prostitute, in ’n straat. Daar is geen interaksie tussen hierdie figure nie, aangesien elkeen alleen in haar ruimte is. Die kleure is somber, swart, suurgeel en suurgroen. Die vroue lyk soos paradysvoëls in ’n kunsmatige lig. Die vorm is sterk ekspressionisties en die hoekigheid is beïnvloed deur Kubisme asook deur Gotiese kuns. In hierdie vertikale komposisie konfronteer die vroue die kyker en daar is geen ontsnapping in leë areas in nie. Voorgrond en agtergrond word een deur vorm en kleur. Die inhoud is belangrik – Kirchner beeld vyf vroue uit sonder enige interaksie tussen hulle, hulle lyk asof hulle soos spoke is wat in die moderne wêreld ronddryf. Al wat oor is vir hulle is hulle groteske paradering in hulle beste uitrustings. Dit is ’n uiters persoonlike werk met ’n sterk sosiale boodskap van die moderne mens wat vasgevang is in ’n onmenslike stadsomgewing.
ERNST LUDWIG KIRCHNER, FIVE WOMEN IN THE STREET, 1913.OLIE OP DOEK
Self-portrait as a soldier: Kirchner se kort ondervinding as soldaat tydens die Eerste Wêreldoorlog het tot
’n senuwee-
ineenstorting gelei, en hy het die volgende paar jare in sanatoriums en in klinieke deurgebring. In hierdie werk druk hy sy houding teenoor die oorlog uit deur sy identiteitskrisis en gevoel van swaarkry uit te beeld. Hy beeld homself uit met ’n geamputeerde hand wat beduidend sy regterhand – sy skilderhand – is. Hy hou die gangreenstompie van een hand regop en ook die snaakse hoek van die ander een. Dit beeld sy sielkundige lyding uit asook sy stryd om voort te gaan om as ’n kunstenaar onder hierdie omstandighede te werk. Die afgekapte hand word ’n simbool van sy dooie kreatiwiteit en sielkundige toestand. Dit beeld sy weerloosheid en beseerde siel uit, omdat hy natuurlik die aaklighede van die oorlog aanskou het, en dit beeld ook sy eie afwagting van sy selfvernietiging uit. Kirchner word in sy militêre uniform uitgebeeld.
ERNST LUDWIG KIRCHNER, SELF-PORTRAIT AS A SOLDIER, 1915. OLIE OP DOEK