Agtergrond van Abstrakte Ekspressionisme Die kunstenaars na wie gewoonlik verwys word as Abstrakte Ekspressioniste is Jackson Pollock, Franz Kline, Ad Reinhardt, Robert Motherwell, Adolph Gotlieb, Mark Rothko, Willem de Kooning, Clyfford Still en Barnett Newman. Hierdie kunstenaars het nie ’n beweging gestig nie, maar hulle het mekaar geken en hulle was tydsgenote in terme van ouderdom. Daar was nie eenvormige stilistiese eienskappe nie en hulle het nie ’n manifes of ’n program gehad nie. Die kritici wat aan hierdie groep kunstenaars hierdie naam gegee het, het hulle karaktertrekke uiteengesit/geformuleer. Harold Rosenberg, ’n kunskritikus, het in 1952 hulle nie-amptelike woordvoerder geword toe hy geskryf het: “Op ’n sekere oomblik … het die skilderdoek aan een Amerikaanse kunstenaar na die ander begin verskyn as ’n arena waarin (hulle kon) optree – eerder as ’n ruimte om in te hervervaardig, herontwerp, te analiseer of om ’n voorwerp, werklik of denkbeeldig, ‘uit te druk’. Wat op die skilderdoek sou gaan, was nie ’n prent nie, maar ’n geleentheid. Die skilder het nie meer sy esel benader met ’n beeld in sy kop nie; hy het dit benader met materiaal in sy hand om iets te doen aan die materiaal voor hom. Die visuele beeld is die resultaat van ’n ontmoeting.”
MOTHERWELL. ELEGY TO THE SPANISH REPUBLIC. 1965 – 1967. OLIE OP DOEK
Rosenberg se artikel is gepubliseer as “Te American Action Painters”. Die titel het gelei tot die term aksie-kunstenaars om die kunstenaars te beskryf wie se skilderye die fisieke daad van skilder geword het. Die aksie van skilder het nie slegs ’n aksie van die gewrig geword nie, maar die aksie van die hele liggaam. Hierdie aksie van skilder is beskou as ’n eksistensiële oefening wat die persoonlikheid van die kunstenaar onthul het en was daarvolgens ’n uiterste vorm van eerlikheid en selfuitdrukking.