Alhoewel die drie Amerikaanse skilderye wat uitgebeeld word nie ingedeel kan word onder die bewegings wat jy in hierdie hoofstuk bestudeer nie, is hulle almal beroemd en word daar dikwels na hulle verwys in gewilde kultuur. Hulle dra almal ’n gevoel van ’n spesifieke tyd en plek in Amerika oor. Vergelyk hulle met vroeë Suid-Afrikaanse kunswerke deur kunstenaars soos Gerard Sekoto en George Pemba, wat julle in meer detail in Graad 12 gaan bestudeer.
Skryf ’n paragraaf oor elkeen van hierdie werke om te verduidelik hoe hulle ’n plek en tyd verteenwoordig. Verwys na die volgende: • Beskryf die toneel wat uitgebeeld word • Komposisie en kunselemente • Atmosfeer, moontlike betekenisse/interpretasies.
8 Meksikaanse muurskilderye
Hierdie term beskryf die grootskaalse muurskilderwerk in Mexiko in die 1920’s en 1930’s. Die belangrikste kunstenaars was Diego Rivera, José Clemente Orozco en David Siqueiros (“Die Drie Grotes”). Hulle was almal verbind tot linkse idees tydens ’n politiek onstabiele tyd. Hulle grootskaalse muurskilderye op openbare geboue is geskilder om sosiale en politieke boodskappe aan die publiek oor te dra. Om dit te doen, het hulle ’n naturalistiese styl gebruik en hul tot die geskiedenis en erfenis van hulle pre-Kolombiese kulture gewend vir inspirasie.
JOSÉ CLEMENTE OROZCO, HISPANO-AMERICA, 1934. FRESKO. VISUELE KUNSTE GRAAD 11