Te Weather Project is ’n installasie wat vanaf Oktober 2003 tot Maart 2004 in die Turbine Hall by die Tate Modern in Londen te siene was. Eliasson se gebruik van die weer as onderwerp het kommentaar gelewer op iets wat nog altyd ’n deel is van mense se alledaagse gesprekke en fisieke ondervinding. Eliasson het ’n yslike optiese illusie geskep deur ’n semi-sirkel te skep wat bestaan uit 200 geel natrium- lampe wat weerkaats word in die spieëlplafon om die effek te gee van die vol sirkel van ’n sakkende son. Die mistige atmosfeer is gegenereer met bevogtigers wat ’n mengsel van suiker en water in die lug in gepomp het. Die kykers wat die spasie binnegetree het, kon hulself weerkaats sien in die yslike spieëls wat die plafon be- dek het. Hulle het as swart skaduwees in silhoeët in die wasige, oranje lig voorgekom. Die effek was dat mense deel van die gemeenskap van menslikheid geword het want hulle individualiteit is deur die mistige oranje lig versterk en hul vorms is verklein deur die skaal van die installasie in die yslike galeryspasie. Hierdie kunsmatige natuurlike omgewing vestig die kyker se aandag op die feit dat die ruimte veronder- stel is om die weer uit te hou, en nou elemente van die weer bevat. Die kunsmatige omstandighede word saamgevat binne die geslote ruimte en dit bly dieselfde vir die tydsduur van die installasie. In vergelyking met die ondervinding van die natuurlike omstandighede buite, wat heeltyd verander en ’n yslike ruimte dek, beklemtoon hierdie installasie die individuele kyker se sin van ruimtelike omgewing en tyd in die ondervin- ding van die teenwoordige oomblik. Alhoewel Eliasson ’n illusie geskep het, was hy ook geïnteresseerd in die idee van ’n galery of museum- ruimte as ’n area waar mense kan verwag om vorms van mediasie te ondervind, byvoorbeeld plakkate, pamflette, persresensies en tekspanele langsaan die kunswerke. Hy het versigtig die inligting gekies wat hy wou gebruik om die installasie te adverteer sodat dit nie die kykers se verwagtinge van die kunswerk sou beïnvloed of bevooroordeel nie. Eenvoudige stellings oor die weer is gebruik om dit te adverteer in plaas van foto’s van die werk.
Dit was ook moontlik om die meganismes agter die installasie waar te neem, soos die substruktuur, die elektriese bedrading en meganismes wat die mis skep. Hierdie is ’n ondermynende aspek van die installasie wat wegbreek van tradisie aangesien die illusie wat deur die kunswerk geskep is, ontbloot word en die kyker ’n ander aspek van die ondervinding van die omringende werklikheid moet oorweeg.
VISUELE KUNSTE GRAAD 11
OLAFUR ELIASSON. THE WEATHER PROJECT. 2003–2004. TATE MODERN TURBINE HALL.
PLAKKAAT WAT GEBRUIK IS OM THE WEATHER PROJECT TE ADVERTEER.