vermindering tot ’n absolute essensie word goed geïllustreer in sy reeks werke oor baaiers. Hy het die wette van anatomie geïgnoreer en het die menslike figuur dieselfde soliede en konkrete kwaliteit as die voorwerpe in sy stillewes gegee. Hy wou die beenstruktuur onder die vel wys en wou die naakfiguur integreer met die omliggende landskap. Die figure is ontneem van sensuele skoonheid. Hulle ledemate is verleng en hulle swaarheid word oorbeklemtoon. Die boomstompe vorm ’n sterk boog oor die figure in die voorgrond, wat omgekeer is in die vorm van die arms van die twee figure in die middel. Die groepe aan die linker- en regterkant vorm piramidiese komposisies. Hy het die figure verwring sodat hulle beter by die omgewing kon inpas. Die figure in die skildery is net voorwerpe of “boublokke” in hierdie struktuur. Cézanne het homself as ’n skepper beskou, nie as ’n verslaggewer oor wat hy gesien het nie. Hy het vry gevoel om sy skilderye op te bou soos hy dit goed gedink het. Al sy werke deel ’n grootsheid wat sy begeerte weerspieël om die struktuur onder die voorkomste aan te gryp en uit te beeld.
VINCENT VAN GOGH (1853 – 1890)
Van Gogh is in Groot-Zundert in Holland gebore en was die seun van ’n predikant. Op die ouderdom van 16 het hy vir ’n kunshandelaar in Den Haag gaan werk. Hy het sewe jaar lank in verskillende takke van die besigheid gewerk in stede soos Brussels, Londen en Parys. In Londen het hy ’n liefdesteleurstelling gehad wat hom verskriklik ontstel het. Hy het besluit om teologie te studeer, maar het die eksamen gedruip. Daarna het hy ’n tydelike pos aanvaar as ’n sendeling vir die mynwerkers in die Borignage, ’n steenkoolmyndistrik in België. Hy was egter ook nie suksesvol in hierdie rol nie, ten spyte van sy opregte pogings om met die gemeenskap te identifiseer. Hy is ook beïnvloed deur die lyding wat deur hierdie verarmde mense verduur moes word. Hy het gevolglik die begeerte gehad om hulle lyding en sy meegevoel op doek uit te beeld. Van Gogh het in 1880 op die ouderdom van 27 begin skilder. Hy het na Holland toe teruggekeer en het in Den Haag en later in Nuenen gewoon. In sy vroeë werke gebruik hy somber kleure en beeld die eentonigheid en kleurloosheid van die lewens van die mynwerkers en plaasarbeiders uit saam met wie hy gewoon het, soos in Te Potato Eaters. Kenmerkend van hierdie periode is die donker, somber impasto-tegiek.
THE POTATO EATERS, 1885. OLIE OP DOEK VISUELE KUNSTE GRAAD 11
THE LARGE BATHERS, 1898 – 1906. OLIE OP DOEK
“Ek het ’n verskriklike herlderheid op oomblikke wanneer die natuur so mooi is. Ek is nie meer bewus van myself nie, en die prente kom na my toe soos in ’n droom.” - Vincent van Gogh