Die oorlog het gewys wat gebeur as regerings te gierig en te materialisties was. Die Dadaïste het gevoel dat menslike logika gelei het tot hierdie menseslagting en dat die enigste oplossing politieke anargie (anargie = afwesigheid van regering, wanorde) was en om belangrikheid te heg aan menslike emosies, die intuïtiewe en die irrasionele. Dada was dus ’n protesbeweging teen die tradisionele sosiale waardes (moreel, godsdienstig en polities) wat die oorlog moontlik gemaak het.
“Dada was ’n rebelse oplewing van lewensbelangrike energie en woede; dit het ontstaan uit die absurditeit van daardie dwase oorlog. As jong mense het ons teruggekeer (vanaf die oorlog) in ’n toestand van verwarring en ons woede moes op een of ander manier uitgedruk word. Dada het dit taamlik natuurlik gedoen deur aanvalle op die fondamente van die samelewing wat verantwoordelik was vir die oorlog … ons entoesiasme het totale revolusie versinnebeeld.” – Max Ernst
FOTO GENEEM TYDENS DIE EERSTE WÊRELDOORLOG
Eienskappe van Dada • Dada was ’n gemoedstoestand. Die kunstenaars wou spot en skok. • Dit was ’n protesbeweging teen die goeie smaak en morele waardes van die middelklas. Hierdie negatiewe beweging wou alle tradisies in kuns verwoes. Daarom het hulle selde gewone media in hulle skilderye en beeldhouwerk gebruik, bv. montage deur Hannah Höch en driedimensionele kunswerk deur Schwitters.
• In sy soeke om vry van alle teorieë, standaarde en gesag te wees, het Dada die spot met alles gedryf. “Gebruik Rembrandt as ’n strykplank” is ’n voorbeeld van hulle verontagsaming van tradisionele kuns. (Man Ray se Cadeau, ’n driedimensionele kunswerk wat bestaan uit ’n strykyster met spykers daarop, sou geskik gewees het.) Moderne kuns is ook gespot deur die uitstalling van ’n speelgoed-aap met die titel “Portrait of Cézanne” deur Picabia.
• Dada was ’n opstand teen logika en rede. In hulle minagting vir die bewuste verstand, het hulle begin om die onderbewussyn te verken in musiek, literatuur en in visuele kunste. (Surrealisme sou hiermee voortgaan.)
Voorbeelde van kunswerke Dada het geen spesifieke styl nie, soos daar ’n Kubistiese styl was nie. Dada was eerder ’n gemoedstoestand. Individuele kunstenaars was verantwoordelik vir alle soorte innovasies wat ’n geweldige invloed gehad het op kunstenaars wat gevolg het. Dit het die volgende ingesluit: • Die gebruik van kans-effekte (toeval) – Hans Arp • Die gebruik van rommel/“herwinning” – Kurt Schwitters • Fotomontage– John Heartfield en Hannah Höch • Ready-made – Marcel Duchamp
VISUELE KUNSTE GRAAD 11
PICABIA, PORTRAIT OF CÉZANNE, 1921.
MAN RAY, CADEAU (THE GIFT), 1921. STRYKYSTER MET SPYKERS