Ernst Ludwig Kirchner (1880 – 1938) was ’n Duitse ekspressionistiese skilder en afdrukmaker en een van die stigterslede van Die Brücke. Hy was opgeroep vir weermagdiens in 1915. Sy kortstondige deelname aan die Eerste Wêreldoorlog het tot ’n senuwee-ineenstorting gelei en hy het die volgende paar jaar in sanatoriums en in klinieke deurgebring. In 1918 het Kirchner na Switserland toe getrek, waar hy voortgegaan het om te skilder terwyl hy baklei het teen uiterste depressie. Soos baie ander ekspressionistiese kunstenaars van die tyd is Kirchner se kuns tragies ingesluit by die Nazi-uitstalling van ontaarde kuns in 1937 en meer as 500 van sy waardevolle werke is vernietig. Dit het Kirchner se depressie vererger en in 1938 het hy selfmoord gepleeg.
“Die Duitse kunstenaar skep sy vorm uit die verbeelding, innerlike visie en die vorms van sigbare natuur is slegs simbole vir hom … hy sien verby hierdie dinge.” - Ernst Ludwig Kirchner
Toe Kirchner in 1911 Berlyn toe getrek het, het hy met ’n reeks straattonele begin wat sommige van sy beste voorbeelde is van Die Brücke. In hierdie werke dryf Kirchner die spot met die rykes wat, terwyl Duitsland op die rand van oorlog was, net daaraan kon dink om met hulle mooi klere in die strate te paradeer. Hierdie jare was ’n tyd van emosionele konflik vir hom en dit kan gesien word in sy ekspressionistiese werke wat dikwels gekenmerk word deur hoekige strukture.
ERNST LUDWIG KIRCHNER, STREET SCENE IN BERLIN, 1913.OLIE OP DOEK ERNST LUDWIG KIRCHNER, WOMEN IN THE STREET, 1913. OLIE OP DOEK