“Te day of the god”: Hierdie skildery se tema is afkomstig uit Gauguin se studie en verbeeldingryke interpretasie van die Polinesiese mitologie. Dit is ’n eksotiese, onwerklike toneel wat gedomineer word deur ’n standbeeld van die god met sy vreemde, geveerde kopdrag. Sy naam is Taaroa en in die Maori-godsdiens was hy die skepper van die wêreld en die hoof van die gode. Twee vroue in wit neem vir hom geskenke en aan die regterkant voer twee meisies ’n rituele dans uit. Aan die linkerkant speel ’n musikant op ’n fluitagtige instrument en aan die regterkant is ’n universele moeder-en-kind-uitbeelding. In hierdie werk verwys Gauguin na baie bronne, soos die invloed van Egiptiese kuns in die herhalende profiele van die witgeklede meisies. Die drie kaal figure op die voorgrond lyk of hulle die skepping voorstel, veral met die embrio- krul van die figuur aan die regterkant. Die kurwes van hulle figure en van die god se geveerde kopstuk word in die voorgrond weerspieël. Die water is gevul met vreemde amoeba-agtige vorms, wat miskien rotse, skaduwees of slegs dekoratiewe weerkaatsings is wat ontwerp is om ’n atmosfeer en ritme aan die komposisie te verleen. Die ritme word hervat in die arbitrêre wolkvorms in die agtergrond. Die werk word verminder tot ’n dekoratiewe, vlak area met sterk, nie-naturalistiese kleure. Gauguin het ’n werk geskep wat fokus op ’n man se fassinasie met godsdiens vanuit sy verbeelding. Simbolies verteenwoordig dit die innerlike en emosionele mens. Die verbinding met naturalisme is finaal beëindig.
PAUL GAUGUIN, THE DAY OF THE GOD, 1894. OLIE OP DOEK