Tegniek • Hierdie is nie die medium nie, maar hoe dit geskep is in die spesifieke medium. Is die kwaswerk byvoorbeeld egalig (soos ’n foto), impasto, gestippel of liniêr?
Styl • Styl verwys na naturalisme, figuratiewe, ekpressionisme, abstraksie, dekoratiewe kunswerke, stilisasie, ens.
• Wees bewus van die verkeerde gebruik van die term “abstrak”. Indien daar nie enige verwysings na die werklikheid is nie, dan is iets abstrak. ’n Werk kan gedeeltelik abstrak wees met ’n tendens om vorms abstrak weer te gee, maar die werk is steeds figuratief indien daar verwysing na beelde is.
4 Formele kunselemente
Die formele aspekte van elemente wat in ’n kunswerk bestaan, word hieronder bespreek.
LYN
Wanneer lyn in ’n kunswerk bespreek word, oorweeg die volgende: • Tipe (gebuig, reguit, ens.) • Rigting (horisontaal, vertikaal, diagonaal) • Funksie (kontoerlyne, dekoratiewe lyne, lyne gevorm deur voorwerpe in ’n skildery, ens.)
VORM
Wanneer vorm bespreek word, praat ons oor: • Positiewe vorms – die werklike positiewe beeld waarop die oog eerstens fokus
• Negatiewe vorms – hierdie is die ruimte of vorms tussen die positiewe vorms
• Organiese vorms – hierdie is natuurlike en kromlynig, hulle lyk ontspanne
• Geometriese vorms – hierdie is mensgemaak en reglynig, hulle lyk formeel. ’n Beeldhouwerk het ’n vorm, is driedimensioneel en het massa. Die omringende spasie is die negatiewe vorm. Kyk na die vorm van die werk. Dring dit ruimte binne of is dit ’n geslote vorm?