Modernisme is ’n algemene term wat verwys na 20ste-eeuse argitektuur. Dit het voor die Eerste Wêreldoorlog ontstaan en het die styl geword wat min of meer wêreldwyd gebruik is. Die term “Internasionale Styl” is vir die eerste keer gebruik in ’n katalogus van die Eerste Internasionale Uitstalling van Moderne Argitektuur wat by die Museum van Moderne Kuns in New York in 1932 gehou is. Teen die 1930’s was daar een oorheersende styl: Moderne Argitektuur. Na die Tweede Wêreldoorlog het hierdie styl bekend geraak as die Internasionale Styl omdat dit toe beskou is as die enigste geskikte of selfs regmatige styl wat gebruik kon word vir enige soort gebou en vir enige samelewing.
Pioniers August Perret was ’n Fransman wat geëksperimenteer het met gewapende beton.
Gewapende beton Argitektuur in die 20ste eeu het drasties verander weens die gebruik van staal en die uitvinding van beton deur die Franse ingenieurs Hennibique en Coignet in ongeveer 1895. Argitekte hoef nie meer die paal- en latei-stelsel te gebruik het nie, of die boog of die gewelf nie. Gewapende beton word gemaak deur staalversterkings in die vorm van dun staalstawe in die beton te plaas terwyl dit nog nat is. Wanneer dit droog word, is gewapende beton baie sterk en omdat die beton in ’n gietvorm geplaas word (soos ’n jellie) kan dit enige vorm aanneem wat die argitek hom/haar kan voorstel. Geboue van die 20ste eeu het dus ’n verskeidenheid interessante vorms aangeneem.
Die Romeine het beton gebruik om hulle massiewe geboue op te rig. Gewapende beton was die uitvinding van die Franse ingenieurs Hennibique en Coignet teen ongeveer 1895. Beton het die eienskap van samepersing. Dit is daarom baie sterk in direkte gewig, maar nie tydens spanning nie. Gewapende beton is ’n materiaal wat die samepersing van beton kombineer met die trekkrag van staal.
PETER BEHRENS (1868 – 1940), was ’n Duitser wat beskou kan word as die “vader” van die moderne Internasionale Styl. Hy was gekant teen enige vorm van versiering, wat hy verwerp het ten gunste van onversierde style wat uit glas en staal bestaan het. Hy was die eerste ware ontwerper van industriële geboue toe hy in 1907 as ’n ontwerpskonsultant deur die AEG in Berlyn aangestel is. Hy was verantwoordilik vir die ontwerp van fabrieke, uitstallingsale en verpakking vir AEG.
AEG Turbine-fabriek kan beskou word as die eerste fabrieksgebou wat argitekturele status bereik het. Dit is ’n glas-en-staal-konstruksie met slegs die hoeke en dak wat uit beton bestaan. ’n Mens kan sien dat die struktuur van staalsteunpilare gevul is met ’n ligte raamwerk van glas aan die buitekant. Versiering is tot ’n minimum beperk. Die skoonheid van die gebou lê in die konstruksie en inherente skoonheid van die materiale. Die lig en lug is kenmerkend van hierdie gebou, asook die vry, oop en aanpasbare interieur. Behrens het geglo in die deugde van die masjien en volgens hom is masjiene effektief – en daarom sal ontwerpe wat op masjiene gebaseer is, ook effektief wees. Dit is die idee van funksionalisme. Die groot name van die Internasionale Styl – Mies van der Rohe, Le Corbusier en Gropius – het almal op ’n sekere stadium in die Berlynse kantore van Behrens gewerk.