Floor cake: Oldenburg het ingewikkelde metafore geskep om die grootte en tekstuur van die onderwerpe wat hy gekies het, te verander. Die oorgrootte Floor Cake is ’n eksperiment met die effekte van verplasing. Dit beslaan ’n groot area in die vertrek en die kyker moet rondom dit loop om in staat te wees om dit van alle kante te besigtig. Die kyker word oorskadu deur die stuk koek. Anders as ’n tradisionele beeldhouwerk, het Oldenburg die sjokoladekoek sag uitgebeeld, maar, soos die vergrootte uitbeelding van die werk, is die kleur en tekstuur soos dié van ’n karikatuur. Aangesien dit gemaak is van doek en geverf is met sintetiese polimeerverf en lateks, is die effek eerder afskuwelik as aanloklik. Indien dit uitgestal word saam met die ander items van kos wat buite verhouding voorgestel was, bied sy werke satiriese kommentaar oor hierdie bekende voorwerpe as ikone van ’n obsessiewe verbruikersamelewing. Hierdie transformasie verbreed die
grense
van kuns deur kuns en werklikheid teen mekaar af te speel. Die kyker word iets as kuns aangebied en dit verteenwoordig glad nie, op enige wyse, tradisionele kuns nie. Oldenberg het ook gesê dat sy bedoeling was om kunswerke te skep wat visuele voorstellings van sy fantasieë is, maar dat ’n mens daaraan moet kan vat, anders as ’n skildery of ’n voorwerp. Hierdie sagte beeldhouwerke is anders as tradisionele beeldhouwerk in die opsig dat die algehele vorm daarvan verander kan word na gelang van waar dit uitgestal word.
CLAES OLDENBURG. FLOOR CAKE. 1962. SINTETIESE POLIMEERVERF EN LATEKS OP SEILDOEK GEVUL MET SKUIMRUBBER EN KARTONBOKSE
WOORDESKAT TOEËIEN is om eienaarskap te neem of om eienaarskap vir jouself te neem. GENERIES is ’n algemene eienskap wat op enige individu of op ’n groot groep of klas toegepas kan word. STEREOTIPE is die vaste idee van iets of iemand wat onveranderlik, gewoon en eentonig is.