Louis Sullivan (1856 –1924) was ’n Amerikaanse argitek wat die “vader van wolkekrabbers” genoem is. Hy was deel van die sogenaamde Chicago School, ’n skool argitekte wat aan die begin van die 20ste eeu in Chicago aktief was. Amerika was gewikkel in vinnige sosiale en ekonomiese groei tydens die tweede helfte van die 19de eeu. ’n Baie meer stedelike samelewing het tot stand gekom en die samelewing het nuwe, groter geboue nodig gehad. Die massaproduksie van staal was die hoofdryfveer vir die vermoë om wolkekrabbers te bou. Die uitvinding van die elektriese hysbak het gehelp om hierdie wolkekrabbers ’n werklikheid te maak. Sullivan is verantwoordelik vir die frase “vorm volg funksie”, wat die groot strydkreet van modernistiese argitekte sou word.
LOUIS SULLIVAN, GUARANTY GEBOU, NEW YORK, 1894 – 1895.
Art Nouveau ONGEVEER 1890 – 1905
(Art Nouveau staan ook bekend as Jugendstil in Duitsland, Sezessionstil in Oostenryk en Style Guimard in Frankryk)
Die naam Art Nouveau is geneem van ’n winkel wat in 1895 in Parys deur die kunshandelaar Samuel Bing geopen is. Hy het kuns en voorwerpe in hierdie styl verkoop. Art Nouveau beteken ’n “nuwe kuns” wat sou wegbreek van die slordige massavervaardigde produkte van die laat 19de eeu. Dit was ’n romantiese en hoogs dekoratiewe styl wat in Europa en in Amerika ontstaan het. Art Nouveau in argitektuur wou wegbreek van historisisme, d.i. om style uit die verlede te gebruik, soos Griekse pilare, Romeinse koepels en Gotiese boë. Art Nouveau wou historisisme met ’n nuwe styl vervang, wat organiese vorms (vorms uit die natuur) op ’n gesofistikeerde en dekoratiewe manier gebruik. Art Nouveau het inspirasie verkry vanuit natuurlike organiese vorms wat groei en beweging verteenwoordig om ’n nuwe styl te skep. Die vryvormkurwe en sweepslaglyn het die vernaamste eienskap geword met lyne en vorms gebaseer op die swaan, pou, lelies, ens.
VISUELE KUNSTE GRAAD 11
HECTOR GUIMARD, METRO-INGANG, PARYS
HIERDIE STRUKTUUR TOON DIE TIPIESE ORGANIESE AARD VAN ART NOUVEAU, ASOOK DIE NUWE MOONTLIKHEDE VAN SMEEYSTER.