Jacques-Louis David (30 Augustus 1748 – 29 Desember 1825) is beskou as die beste skilder van sy era. David het later ’n aktiewe ondersteuner van die Franse Revolusie geword en was effektief ’n diktator van die kunste onder die Franse Revolusie. Hy is in die tronk gesit nadat Robespierre tot ’n val gekom het en hy het ’n bondgenoot van nog ’n politieke regime na sy vrylating geword: dié van Napoleon. David het ’n enorme getal leerlinge gehad en hy was gevolglik een van die sterkste invloede in die Franse kuns van die vroeë 19de eeu, spesifiek akademiese salonskilderkuns.
JACQUES-LOUIS DAVID, THE OATH OF THE HORATII, 1784 - 85. OLIE OP DOEK
Die onderwerp vir hierdie politieke skildery het sy oorsprong in ’n historiese verhaal uit antieke Rome. Die moraal van die storie is dat patriotisme (of liefde vir jou land) hoër geag moet word as liefde vir jou familie. Die drie Horatii-broers wat in profiel uitgebeeld word, sweer op hulle pa se swaard dat hulle hul lewens vir die land sal opoffer. Hierdie drie het aangebied om ’n politieke geskil op te los wat ontstaan het tussen hulle en die drie Curatii-broers van hul naburige staat, Alba. Die Horatii-broers se susters en ma ween oor die naderende stryd wat veral tragies is omdat een van die susters verloof was aan ’n Alba-broer. Die
Horatii-broers is geprys vir hulle patriotisme en gebrek aan emosie ten spyte van gevaar en pyn. Volgens David moet kuns volgens ’n stel reëls geleer word. Die argitektuur in die agtergrond vorm ’n reeks geometriese vorms, en die figure in die voorgrond vorm ’n reeks driehoeke wat bo-op ’n argitekturele struktuur gesuperponeer word. Die ruimte is taamlik vlak. Die kontoere is helder en daar is sterk kontraste tussen lig en donker sodat dit voorkom of die figure beeldhouwerke is. Alles is versigtig beplan en duidelik uitgebeeld.