Die Surrealistiese uitstallings in Parys in 1938, 1947 en 1959 en in New York in 1942 is voorbeelde van die installasie van skilderye, tekeninge en beeldhouwerke in ’n omgewing wat bedoel was om as ’n totale werk beskou te word. Die konsep agter hierdie installasies is gekoppel aan die Surrealiste se agenda om nuwe gedagtes te laat ontstaan en is nie bedoel om beskou te word met spesifieke betekenisse wat aan hierdie elemente geheg word nie.
Die Futuriste wou die selfvoldane publiek ontwrig deur hulle opvoerings en het dit beskou as ’n artistieke stryd waarin die gehoor uitgelok is om te reageer. Behalwe dat dit ’n verskeidenheid teatertradisies soos film, akrobatiese opvoerings, sang en dans, hansworsery en ’n mengsel van die absurde ingesluit het wat aan waansin gegrens het, het hierdie uitvoerings glad nie ’n storielyn gehad nie en het dit konstant nuwe maniere ontwerp om die gehoor te skok, wat van hulle verwag het om op ’n sekere manier deel te neem. Hulle het met opset anti-akademiese, primitiewe en naïewe vorms van teater gebruik. In 1916 was die gewilde nagklub Cabaret Votaire
in Zurich, Switserland, die sentrum van die kollaboratiewe Dada-uitvoerings wat lewendige leessessies van gedigte, dans, musiek en sang ingesluit het wat die anargistiese, anti-kuns en anti-establishment-houding van die beweging weerspieël het. Die Cabaret Voltaire het net vir vyf maande geduur, maar het die fondasie gelê vir die revolusionering van kuns. Surrealisme het ontwikkel uit die ontbinde Dada-beweging. Die Surrealiste het aangehou om opvoerings te organiseer wat die sfere van die verstand verken het omdat hulle die studie van sielkunde as onderwerp verken het. In die Berlynse Kunsuitstalling van 1923 is ’n kamer aan El Lissitzky in die galeryspasie afgestaan. Hy het al ses oppervlakke van die kamer gebruik en het daardeur die argitekturele elemente van ’n verenigde uitstalling van sy werke geïntegreer. Hy het kleurreliëfvorms aan die plafon, die vloer en die vier mure geheg en daarmee die beweging van die kyker binne die uitstalpasie aangemoedig. Dit het ’n nuwe rigting aangemoedig om drie dimensionele ruimte te ondervind wat nie verwant was aan die tradisionele verteenwoordiging van drie dimensionele spasie op ’n twee dimensionele oppervlak nie.
RUSSOLO, FUTURISTIESE SKILDER, MUSIKANT EN KOMPONIS EN SY ASSISTENT PIATTI MET GERAASINSTRUMENTE. HY HET DIE KUNS VAN GERAAS VERKEN EN DIE EERSTE OPVOERING VAN GERAASMUSIEK WAT DIE ATMOSFEER VAN GROOT STEDE WEERSPIEËL HET, IS IN 1913 IN SY HEREHUIS OPGEVOER.
EL LISSITZKY, PROUN ROOM, 1923. GEVERFDE HOUT
Die Minimalistiese houding het gefokus op die proses van die beplanning van die kunswerk, die eenvoud van die medium, komposisie, vorm en kleur en die gebruik van industriële materiale wat die kenmerkende merk van die kunstenaar uitgeskakel het. Hierdie opvatting het die Konseptuele Kunstenaars in die soort kuns beïnvloed wat gedematerialiseer geraak het en die werklike kunswerk was nie meer sigbaar nie. Dit het gelei tot ’n verdere ontkenning van die skepping van kunsvoorwerpe soos gesien in Installasiekuns, Uitvoerende Kuns, Lyfkuns, Videokuns en Digitale Kuns. In die 1960’s het die Minimalistiese erkenning van visuele ondervindings van die verhouding tussen die beeldhoukundige geometriese vorms en die omgewing van die galery ook gelei tot die amper teatrale ondervinding van spasie en vorms deur die kyker.
Die Environments and Happenings tydens die 1950’s en 60’s wat geskep is deur kunstenaars soos Karpow, Cage, Oldenburg en Samaras was die eerste manifestasies van installasiekuns. Die ontwikkeling