AGTERGROND Kubisme is vanaf 1907 deur Pablo Picasso en Georges Braque ontwikkel. Tot ongeveer 1925 het baie kunstenaars in variasies van Kubisme gewerk. Kubisme was ’n belangrike en radikale kunsrevolusie in die 20ste eeu. Sedert die Renaissance het kunstenaars perseptueel gewerk, waar die oog in beheer is en die kunswerk naturalisties is, ’n venster op die wêreld, met diepte wat deur perspektief geskep is. Soos jy gesien het, is hierdie idee sedert die Impressionisme op verskillende maniere deur kunstenaars uitgedaag, byvoorbeeld om emosionele reaksies te skep (Van Gogh, Duitse Ekspressioniste). Kandinsky het abstrakte skilderye geskep wat onverwant was aan die natuurlike wêreld deur sy spirituele kant uit te druk. Fauvisme het kleur bevry van sy beskrywende gebruik. Kubisme bied egter ’n ware verandering aan deur konseptueel te werk. Die brein is in beheer en die Kubistiese kunstenaar is behep met wat hy weet. Hy weet byvoorbeeld die tafel het vier pote, dus beeld hy hulle almal uit. Die platheid van die skildery word nie beklemtoon deur tradisionele diepte nie – asof die vorms op ’n skinkbord aangebied word. Dit is nie ’n “nuwe” manier om kuns te skep nie, omdat baie nie-Westerse kulture met idees gewerk het, eerder as om visuele voorkomste uit te beeld, soos met Afrika-kuns die geval is.
Kunstenaars: Pablo Picasso en Georges Braque, wat Kubisme ontwikkel het. Juan Gris het later by hulle aangesluit.
INVLOEDE
• Afrika-kuns Picasso en Braque het albei Afrika-maskers versamel. Die Afrika- beeldhouer het sy onderwerp op ’n konseptuele manier benader; idees oor sy onderwerp is belangriker vir hom as ’n naturalistiese uitbeelding daarvan, en daarom word hy gelei na vorms wat meer gestileerd en vereenvoudig is. Picasso en Braque het hierdie idee oorgeneem om konseptueel te werk. Vier reghoekige vorms in ’n driehoek verteenwoordig ’n gesig. Dit beskryf nie die verskille tussen mense nie, maar is eerder ’n universele verteenwoordiging van die mens. Kyk na die ander voorbeelde van uitgekerfde Afrika maskers en figure om ondersteuning vir die stelling te verskaf. Kubisme het ’n soortgelyke benadering as die Afrika-kunstenaar gebruik – wat jy WEET oor ’n onderwerp is belangriker as wat jy sien.
• Cézanne was een van die grootste invloede op Kubisme met sy idees van verskeie benaderings en die onderliggende strukture (keël, silinder en sfeer) van dinge. Sy idees oor die platheid van skilder en die klem op die tweedimensionele was ook invloedryk.
MASKER IN BAPENDE-STYL, DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO. HOUT, PIGMENT EN GROENTEVESEL.