Bridget Riley (24 April 1931-) Riley is ’n Britse kunstenaar wat in Norwood in Londen grootgeword het. Sy het aan Goldsmiths College en die Royal College of Art studeer. Haar vroeë werke is figuratief en semi-Impressionisties. Onder die invloed van kunstenaars soos Vasarely het sy haar kenmerkende styl teen 1960 ontwikkel. In hierdie abstrakte werke het sy herhalende geometriese en organiese patrone gebruik om ’n effek te skep wat die dinamisme van lig verken het en wat ’n gedisoriënteerde effek op die kyker gehad het.
“Vir my is die natuur nie landskap nie, maar die dinamisme van visuele beelde … ’n gebeurtenis eerder as ’n voorkoms. Hierdie magte kan slegs aangepak word deur kleur en vorm te gebruik as onafhanklike identiteite, om hulle te verlos van alle voorskiftelike of funksionele rolle.” – Riley
Current is verteenwoordigend van Riley se vroeë optiese skilderye. Hierdie werke uit die vroeë 1960’s was almal swart en wit. Sy het vanaf 1966 kleur in haar werke begin gebruik. Die titel verwys na wat die kunstenaar in die natuur waargeneem het en sy het dit verteenwoordig deur ’n patroon van rimpels op die oppervlak van ’n stroom te skilder.
Sy het gereelde patrone van lyn gebruik wat die hele oppervlak van die skildery bedek. Die golwende swart en wit lyne lyk of hulle vibreer en vorm drie dimensionele induikings wat bewe op die skildery se oppervlak. Hierdie voorkoms van beweging word geaktiveer deur die aangrensing van swart en wit. Een van Riley se doelwitte was om ’n aktiewe ruimte tussen die skilderoppervlak en die kyker te skep.
Die formele elemente van Current, en van ander optiese kunswerke, is baie versigtig beplan sodat dit ’n effek op die kyker kon hê. Die positiewe en negatiewe vorms in die skildery hiervan en in ander optiese komposisies is van dieselfde belang. Die gereelde afstande tussen die positiewe en negatiewe vorms skep ’n visuele spanning in die kyker se gedagtes wat die illusie van beweging gee, selfs al is die kunswerk staties en geskilder op ’n twee dimensionele oppervlak.
BRIDGET RILEY. CURRENT. 1964. SINTETIESE POLIMEERVERF OP KOMPOSISIEBORD. 148.1 × 149.3 CM
BRIDGET RILEY. HIGH SKY 2. 1992.
TEMPERA OP HARDE BORD
BRIDGET RILEY. CATARACT. 1 976. EMULSIE-PVA OP LINNE