EKSPRESSIONISME is kuns waarin daar ’n sterk uitdrukking van persoonlike gevoelens en emosies deur verwringing, emosionele keuse van kleur en ekspressiewe kwashale uitgebeeld word.
Voorbeelde van Van Gogh se werk
Te Night Café is geskilder tydens Van Gogh se verblyf in Arles en was in sy eie woorde “een van die lelikstes wat ek nog ooit gedoen het”. Dit beeld die binnekant van ’n biljartkroeg in dié dorpie uit. Met die eerste oogopslag, wil die kyker amper wegkyk, asof hy of sy gebrand is. ’n Volle twee derdes van die skildery is die vloer van die kafee, uitgebeeld in swaelgeel met oordrewe lyne van perspektief wat die oog binne-in die skildery in- trek. Volgende is ’n groen biljarttafel, wat in swaar swart omlyn is. Langs die tafel staan ’n figuur in ’n ligkleurige jas wat uitdrukkingloos na ons staar. Die wit jas van die eienaar “verander” in ’n lemoengeel kleur. Die geel onderste deel van die mure word bloedrooi aan die bokant wat lei tot ’n hinderlike groen plafon. Langs die mure sit die plaaslike mense by die kroegtafels, gebukkend in hulle laatnag-bewelmdheid. Lampe hang vanaf die plafon en word omring deur Vincent se wiele van draaiende geel hale. In hierdie werk kom die krag van kleur na vore. Die helder geel area van die vloer met die oordrewe perspektief word aangedryf deur ’n ontsettende krag wat lei tot die rooi agtergrond, wat op sy beurt met dieselfde krag teenstand bied. Hierdie kenmerke, saam met die impasto-kwashale, skep ’n nuwe prentetaal. Van Gogh beskryf Te Night Café in ’n brief soos volg: “Ek het probeer om die verskriklike passies van die mens uit te druk deur rooi en groen. Die vertrek is rooi en donkergeel met ’n groen biljarttafel in die middel; daar is vier geel lampe met ’n gloed in oranje en groen. Ek het probeer om die idee oor te dra dat dié kafee ’n plek is waar jy jouself kan verwoes, (waar jy) mal goed (kan) doen of ’n misdaad pleeg. Dus het ek probeer om die magte van die donker in ’n veragtelike drankwinkel uit te beeld”. Hierdie is ’n kragtige werk wat ons opreg inlig oor die menslike toestand en emosies.
VINCENT VAN GOGH, THE NIGHT CAFÉ, 1888. OLIE OP DOEK