Die Hong Kong Shanghai bank se ontwerp is beïnvloed deur bronne buite argitektuur, soos die Concord-ontwerp en militêre ontwerp vir mobiele brûe. Hierdie gebou bestaan uit drie betonblaaie wat almal op verskillende hoogtes is, sodat hulle solied van vooraf lyk, maar van die kant af lyk dit soos ’n feekasteel met drie dun spitse wat in die lug in sweef. Die gebou het ’n atrium (oop binnehof) wat tien verdiepings hoog binne-in is, en die X-gevormige vakwerk kan aan die binnekant en aan die buitekant van die gebou gesien word. Dit was een van die duurste geboue in die wêreld om op te rig omdat al die dele op bestelling gemaak is uit die duurste soorte staal en ander materiale. Dit is pronkerig vergeleke met die laat 20ste eeuse tegnologie en gee ’n indruk van tegnologiese oppergesag en mag wat ’n reuse finansiële korporasie wil oordra.
NORMAN FOSTER, DIE HONG KONG EN SHANGHAI BANK, HONG KONG. 1979 – 1986
5 Post-Modernisme DIE 1970’S EN DIE 1980’S
“Minder is meer is vervelig.” – Robert Venturi Sedert die sestigs was daar ook ’n argitekturele styl wat afgewyk het van tegnologie. Moderne argitektuur het grootskaalse omgewings geskep wat hard, meganies en ongemaklik was vir menslike verblyf. Die energiekrisis van die 1970’s het die tekortkominge van die toringblok gewys ten opsigte van afkoeling en verhitting. Moderne argitektuur van die voorafgaande jare het versiering verwerp en dit as onnodig beskou, maar versierings bedek lasplekke tussen materiale en hou die rëen weg van fasades. Die masjienagtige voorkoms van Moderne argitektuur het dikwels sosiaal misluk, soos Le Corbusier se Unité d’habitation in Marseilles. Moderne argitekte het probeer om sosiale ingenieurs te wees om ’n nuwe sosiale struktuur deur nuwe fisieke vorms te skep. Mense het egter nie in hierdie netjiese patrone gepas nie.
Sedert die 1970’s is die optimisme van die 20ste -eeuse droom van tegnologiese voordele stadig vernietig deur wereldwye ressesies en ekologiese vrese. Hieruit het ’n kultuur in die 1970’s en die 1980’s onwikkel wat geglo het dat die hede onbeheerbaar is, die toekoms ondenkbaar, en die verlede is daar vir nostalgie. Post-Modernisme het die historiese koninuïteit van Modernisme verwerp vir ’n beweging wat as pluralisme bekend staan. Pluralisme beteken die aanvaarding van verskillende style en uitgangspunte, wat elkeen dieselfde waarde het. Daarom kon werke teenstellings en verskille kombineer. Die Post- Modernis “leen” vryelik van die style vanuit die verlede, selfs van die Modernistiese verlede. Dit laat kunstenaars die vryheid toe om te kies sonder om spesifiek met ’n styl te identifiseer. Dit toon die verskil tussen Post-Modernisme en die herlewingsbewegings (“revivalism”). (Die Modernis voel dat die probleem van Post- Modernisme is dat dit van die hede ontsnap.)